Agt maande sedert haar verdwyning is die polisie steeds op soek na ’n tienermeisie van Parow, wat in Desember verlede jaar vermis geraak het. 

Bianca Ofon (14) is as vermis aangemeld en die polisie sê tot dusver is daar nog geen teken van haar nie.

Sers. Wesley Twigg, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, sê die ondersoek na die voorval is steeds aan die gang.

“Enigiemand wat kan help met inligting wat kan lei tot die veilige terugkeer van Bianca, word versoek om die ondersoekbeampte, speurkonst. Lorenzo Jeftha, te kontak,” sê hy.

Ofon het haar woning in Parowvallei op 27 Desember 2023 verlaat en nooit teruggekeer nie.

Verwittig niemand

Die saak word deur die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings in Bellville ondersoek.

Die polisie het in ’n verklaring, wat verlede maand uitgereik is, gesê sy het haar huis verlaat sonder om enigeen te verwittig. 

Sy was geklee in ’n wit trui en het ’n swart band om haar kop gedra ten tye van haar verdwyning. 

Ofon is 1,6 meter lank en weeg 50 kg. Sy is vlot in beide Afrikaans en Engels.

  • Enigiemand met inligting kan die polisie by 021 590 1001, 021 590 1019 of 082 522 1095 bel, of bel Stop Misdaad by 08600 10111.

You need to be Logged In to leave a comment.