Nie net was Renier Janse van Rensburg as die jongste krieketskeidsregter in Suid-Afrika op die jong ouderdom van 14 jaar erken nie, maar hy staan ’n kans om selfs as die jongste manlike skeidsregter ter wêreld erken te word.
Bowendien was dié jongman verlede jaar as die Hoërskool DF Malan se o.14 bouler van die jaar aangewys.
“Ek was byna ook as die kolwer van die jaar aangewys, maar ek is by verre ’n beter bouler. Ek het so twee paaltjies per wedstryd gevat,” vertel Renier.
Gebore in Roodepoort in Gauteng, het hy en sy ma, Ciska Keyser, in 2021 na Durbanville verhuis.
Ná hy 21 Oktober verlede jaar sy Cricket Umpiring-eksamen geslaag, het, het hy kort daarna op 12 Desember sy lidmaatskap by Westelike Provinsie Krieketskeidregter Vereniging verkry.
“Voor hy sy oë kon uitvee, word hy gekommandeer om een van die skeidregters by vanjaar se Paarl Boys High Cricket Festival te wees,” sê Keyser.
En so het Renier al vroeg vanjaar sy kennis op die proef gestel toe hy van 7 tot 10 Januarie daagliks op verskillende krieketvelde – van Somerset Wes tot Durbanville – gestaan het.
Hy het maklik 100 tot 120 boulbeurte per dag soos ’n valkoog dopgehou.
“My droom is om vanjaar met die eerstespan op die veld te staan. En tussendeur wil ek soveel moontlik wedstryde behartig,” sê hy.
Nog ’n item op vanjaar se doenlys is om Renier se rekord by die Guinness World Records in te skryf.
“So ver as wat ons kon navors, is die amptelike jongste krieketskeidsregter in die wêreld ’n (toe 15-jarige) Australiese mannetjie met die naam van James Rodgers,” sê Keyser.
Dit is deur die Guinness World Records se webwerf bevestig, wat getuig van Rodgers wat as die jongste krieketskeidsregter op die ouderdom van 15 jaar en 99 dae in 2011 erken is.
“Dit beteken hy is dan 13 maande jonger as die huidige rekordhouer,” voeg sy by.
Wat betref die skeidsregter-eksamen, meen Renier “dit was nogal intens omrede die terminologie van die spel so kompleks is. Oor die algemeen dra ek nou baie beter kennis oor die spel, asof ek die spel in totaliteit net geheel en al verstaan.
“Dit is vir my wel baie pret om nou my spanmaats beter bystand op die veld te bied – dit geniet ek nou baie!”
Sy liefde vir krieket het sommer al op die vroeë ouderdom van vyf begin toe hy krieket by die Laerskool Helderkruin begin speel het onder leiding Riaan van der Watt, toe onderhoof.
“In 2018 word hy selfs opgeneem in die Johannesburg-Wes Krieketspan,” spog Keyser trots.
“Hy is ’n baie aktiewe seun wat hou van buite speel. As ons hom soek, is hy buite in sy krieketnet besig om paaltjies te boul, of een van ons boul vir hom met sy boulmasjien.”
Een ding wat Keyser haar seun nog altyd leer, is: “Kennis en ondervinding kan niemand by jou wegneem nie; juis daarom het ek hom ondersteun toe hy die kursus(se) wou doen.”
Renier is ook ’n gerekende baas van die plaas wat hokkie betref.
“Hy het in Januarie verlede jaar begin hokkie speel en word toe kaptein van die o.14 B-span.
“Hy is ook as die mees waardevolste speler in 2024 aangewys,” sê sy trots.