Buurtwagte en inwoners van Belhar is op ’n hoë gereedheidsgrondslag nadat ’n leerder van die Hoërskool Belhar verlede week onderweg huis toe agt keer met ’n mes gesteek is.

Die 17-jarige Tristan Isaacs is onderweg huis toe glo deur twee mans in ’n VW Golf aangeval en beroof.

Hy is agt keer met ’n skerp voorwerp gesteek, met houe in die kop, nek, bors rug en hande.

Die ouers van Tristan het op voorwaarde van anonimiteit met TygerBurger gepraat.

“Daar was reeds so baie blootstelling oor die voorval op sosiale media, dat ons onsself nie verder in die openbare oog wil hê nie. Ons weet nie waartoe die aanvallers in staat is nie,” sê die ouers.

Hulle het wel breedvoerig inligting oor die huidige toestand van Tristan gegee.

“Ons het met die dokter gepraat en hoewel daar verskeie gate in sy longe was, is hulle vol vertroue dat hy volkome sal herstel. Waaroor ons egter bekommerd is, is wat die sielkundige skade gaan wees. Hy is in hierdie stadium heel kalm, maar ons voel dat die omvang van die trauma nog nie tot hom deurgedring het nie. Wanneer hy ontslaan is, sal ons dadelik vir hom sielkundige berading reël,” sê die ouers.

Hulle is veral bekommerd oor watter rol die aanval op Tristan, wat vanjaar in matriek is, gaan hê.

“Ons praat nog nie eens van terug skool toe nie, maar ons sal alles in ons vermoë doen om hom gefokus te kry op hierdie baie belangrike jaar in sy lewe.”

Hulle voel ook dat ouers nou ’n streep in die sand moet trek omdat Tristan se geval nie die eerste keer is wat ’n leerder onderweg huis toe aangeval word nie.

Ishmael Arnold, woordvoerder van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum, sê ná die voorval het verskeie buurtwagte onderneem om veral rondom die skole te patrolleer wanneer leerders skool toe of huis toe gaan.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article