Bederf jou ma met ’n geskenkie, blomme of eetgoed hierdie Moedersdag. FOTO: PIXABAY


Ons wil almal op Moedersdag ons ma’s spesiaal laat voel, maar soms is dit moeilik om te wys presies hoe lief jy haar het en hoe baie jy haar waardeer. Hier is ’n paar wenke hoe om die dag onvergeetlik te maak.

1. Ontbyt in die bed

Begin die dag op die regte noot. Berei ’n heer­like Moedersdagontbyt voor en neem dit vir Ma op ’n skinkbord terwyl sy nog snoesig in die bed lê. Sit ’n blommetjie uit die tuin by om dit nog meer spesiaal te maak.

2. Gee haar die dag af

Laat Mams heerlik laat slaap of ontspan op die rusbank terwyl die res van die gesin al die reëlings vir die dag tref en enige huistakies verrig. Miskien smag sy selfs na ’n bietjie alleentyd. Kry dan almal uit die huis en laat haar die dag in rus en vrede geniet.

3. Vertel vir almal hoe lief jy haar het

Los ’n boodskap vir jou ma op sosiale media waarin jy met almal deel hoe besonders sy is. Dit mag dalk jou kubervriende irriteer, maar sal beslis jou ma geliefd laat voel.

4. Neem haar uit vir ete . . . of kook vir haar

Neem jou ma na ’n restaurant waarheen sy nog altyd wou gaan en laat haar enigiets op die spyskaart bestel – op jou, natuurlik.

Of kook haar gunstelinggereg tuis. Maak dit ekstra spesiaal met ’n pragtig gedekte tafel omring deur die mense vir wie sy die liefste is.

5. Bederf haar met ’n spa-dag

Wat is dan nou lekkerder as om die dag in ’n sagte japon en pantoffels deur te bring terwyl jy gepamperlang word? Neem Ma vir só ’n stukkie hemel op aarde.

6. Verras haar met haar gunstelingblomme

Haar gunstelingblomme sal nie net jou ma se huis en gemoed ophelder nie, maar dit sal ook vir haar baie beteken dat haar kind haar so goed ken.

7. Gee haar iets vir die soettand

Koop die duurste houer sjokolade in die winkel en gee dit vir haar met streng aanwysings dat sy dit met niemand mag deel nie!

8. Beplan ’n dag van gunstelingaktiwiteite

Maak seker dat die hele dag om Ma draai, met ’n reeks uitstappies wat al haar gunstelingaktiwiteite insluit. Of sy nou ’n koskenner is of ’n paar besoeke aan kunsgalerye en museums sal geniet, dit is háár keuse.

9. Kry al die kinders bymekaar

Baie gesinne is deur tyd en afstand geskei. Maak vanjaar ’n bietjie moeite om die hele gesin ’n slag bymekaar te kry vir Moedersdag. Dit sal vir Mams tog te lekker wees om weer al haar kuikens in die nes te hê.

10. Sê dit hardop

Los die soetsappige kaartjies in die winkel en kortaf SMSe, en vertel jou ma uit jou hart uit hoe lief jy haar het en hoe baie sy vir jou beteken. Dit sal beslis haar dag maak!

You need to be Logged In to leave a comment.