Bess Meyer

Credit: SYSTEM

Huldeblyke stroom steeds in ná die dood van die oud-burgemeestersvrou en plaaslike teaterbekende Bess Meyer, vrou van oorlede burgemeester Tienie Meyer. Sy is op 28 Februarie in die ouderdom van 96 oorlede.

Mary Elizabeth Weidemann, of “tannie Bess” soos sy later jare bekend gestaan het, is op 18 Julie 1925 gebore.

Sy word vir ’n verskeidenheid redes onthou, waarvan haar passie vir toneelspel een van die grootste is.

“Ouma Bess se plekkie op aarde is leeg, maar weet dat haar hemelse toneelspel nou nimmereindigend is,” skryf die familie roerend in haar doodsberig wat onlangs verskyn het.

Die akteur Albert Maritz skryf op Facebook Meyer se dood is “die einde van ’n onvervangbare generasie in die toneel”.

“Bess Meyer het haar alles vir die amateurteater gegee.”

Hy onthou hoe “eksoties” Meyer was, ’n herinnering wat veral uitstaan as hy dink hoe die burgemeesterspaar openingsaande van Bellville se Afrikaanse Toneelvereniging (B.A.T.) kom ondersteun het.

“Bess was self ’n entoesiastiese teatermaker. Sy het gespeel, regie gedoen en was ’n administratrise vir die amateurteatergeselskap,” sê hy.

“Dis om sulke positiewe, onopgesmukte herinneringe dat ’n mens bid dat die hemel alles is was ons hoop hy is, en dat almal wat goeie bedoelinge had, weer daar saam ’n heildronk sal drink en lekker hard sal lag as hulle ‘reminisce’ oor hoe tot ná middernag gefuif en in die Bellville-burgersentrum se fontein geswem is.”

Mickey Anthony, wat haar jare lank begelei het, sê hy het talle herinneringe aan haar warm persoonlikheid en hoe sy haar medemens liefgehad het.

“As ek aan haar dink, dink ek aan vrolikheid, aan skerts, aan ’n helder lag so uit die hart, aan ’n paar ondeunde oë wat altyd gevonkel het.”

Haar deur was altyd oop vir ’n eensame of ’n bekommerde, sê hy.

“Ek dink aan beskeidenheid, want tannie Bess was ten spyte van al haar briljante begaafdhede een van die mees beskeie mense wat ek ooit geken het.

“Sy was altyd verbaas en dankbaar as ’n mens haar gelukwens met ’n goeie vertolking van ’n rol op die verhoog – hetsy ’n praatrol of ’n sangrol.”

Sy word oorleef deur haar drie kinders (Anton, Tinus en Mariana), twee kleinkinders (Marius en Tonie) en drie agterkleinkinders (Carla, Daniël en Zenia).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article