No caption found


Tientalle mense het Maandagoggend buite die Bellville-landdroshof betoog waar ‘n man op aanklagte van die verkragting van ‘n tiener (16) verskyn het.

Die voorval, wat glo verlede week in Lilystraat in Bellville-Suid gebeur het, het die gemeenskap ooglopend diep geskok, met honderde leerders en inwoners wat Vrydag na skole en die polisiekantoor opgeruk het om hul misnoeë uit te spreek

Die meisie (16), ’n leerder aan Kasselsvlei Senior Sekondêre Skool, was verlede Maandagoggend laat vir skool en het net ná 08:00 in die straat gestap. Die man het haar om die nek gegryp, met ’n voorwerp gedreig en by ’n buite-toilet ingedwing. Hier is sy verkrag en beroof.

Die ou en vervalle gebou is agter in ’n erf by geboue wat verhuur word.

’n Veiligheidskamera het die voorval bevestig en die man is ná ’n soektog van vier dae in hegtenis geneem. Sy gesig is duidelik op kamera te sien.

‘Histeries’

Shantel Sinden, wat naby die toilet woon waar dit gebeur het, sê die meisie het die betrokke oggend naby hulle aangehardloop gekom. “Sy was baie ontsteld – sy was histeries; sy kon amper nie praat nie.”

Die meisie het gesê sy is verkrag en wou huis toe gaan, maar het nie geld vir ’n taxi gehad nie. Sinden het haar na die polisiekantoor geneem waar hulle toe ’n saak geopen het.

Vrydag het leerders aan onder meer die Kasselsvlei Senior Sekondêre Skool, Bellville Tegniese Hoërskool en die Laerskole Kasselsvlei en Winsley met honderde handgemaakte plakkate in die strate en by hul skole betoog. “No means no!” het party geskree.

Willemiena Frederiks, koördineerder van die plaaslike ”walking bus”, sê hulle was die betrokke oggend in die aangrensende straat toe die voorval gebeur het.

Die 29 vrywilligers stap elke oggend en middag saam met die kinders na hul vervoer. Hulle hou ook tydens pouses ‘n wakende oog oor die kinders. Hulle hou gewoonlik daardie tyd van die oggend ook wag in Lilystraat, maar ’n padblokkade by nabye taxi’s het hul planne omvergegooi.

“Dit is die eerste keer dat dit hier gebeur,” sê sy. “Ons voel stukkend.”

Ná die betoging by die skool het ‘n groep volwassenes na die polisiekantoor geloop waar hulle verder betoog het. ‘n Man het hulle verhinder om binne te gaan terwyl die betogers op hom geskree het.

Loop deur

Die eienaars van die erf waar dit gebeur het bly in ‘n aangrensende huis en sê hulle gebruik byna nooit daardie deel van hul erf nie. Hulle het kameras laat aanbring omdat hulle al dikwels onder diefstal deurgeloop het.

Die man, wat nie sy naam genoem wil hê nie omdat hulle reeds geviktimiseer word, sê hulle het eers later van die voorval gehoor toe die polisie hul huis besoek en weer verlaat het en ’n kennis hulle daarna vertel het. “As sy maar net geskree het, dan kon ons dalk gehelp het. Niemand het ‘n geluid gemaak nie,” sê die man. “Ons ken nie eens die klong nie.”

Hulle loop deur omdat hulle nie die video, wat deel uitmaak van ‘n polisieondersoek, op sosiale media versprei het nie, hoewel dit teen die wet is.

Die gemeenskapspolisiëringsforum moes ook voor die man se inhegtenisname inwoners waarsku om nie foto’s en video’s te versprei nie omdat mense ’n foto versprei het van ’n man wat nie die verdagte is nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article