Die gemeenskap van Durbanville is geskok nadat ontdek is dat sowat 19 historiese bloekombome op ‘n stuk grond langs rugbyvelde van die Laerskool Durbanville kwaadwilliglik vergiftig is.
Van die ou bome was moontlik deel van die oorspronklike historiese bloekomboomlaning langs Durbanville-rylaan – langs die ou waroete vanaf Durbanville na Bellville.
Gate is in elke boomstam geboor en gif is vermoedelik in die gat gegooi. Meer as een gat is in van die groter, ouer bome geboor. Dit stem ooreen met die metode wat gebruik is toe nege ou, historiese bloekombome in Renbaanweg langs landbougrond in 2019 met ‘n onkruiddoder vergiftig is.
Zahid Badroodien, destyds die Stad Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapdienste en gesondheid (tans die burgemeesterskomiteelid vir water), het toe gesê dat die onkruiddoder in die gate deur die boom se vaskulêre stelsel regdeur die boom versprei. As ‘n boom eers vergiftig is, is daar geen manier om dit te red nie, het hy gesê.
Daar is reeds in April opgemerk dat die bome swaarkry en begin vrek. Die bome groei op grond wat die Stad sedert 2022 vir ‘n tienjaar-periode aan die skool verhuur. Die grond bestaan uit twee erwe, Erf 1980-RE, wat vir ‘n openbare pad gesoneer is, en Erf 1971, wat vir ‘n openbare oop ruimte gesoneer is en waarop ‘n stormwater-retensiedam geleë is, volgens ‘n woordvoerder van die Stad Kaapstad. Dit word hoofsaaklik gebruik vir parkering tydens sportbyeenkomste en vir ouers wat hul kinders by die skool kom op- en aflaai.
Die stuk grond van 5 000m² is deel van die totale gehuurde stuk grond van 16 770m², waarop die skool se twee rugbyvelde (Erf 1876) geleë is. Dit is hoofsaaklik die bome op Erf 1980-RE (onbeboude deel van Aristeaweg) wat vergiftig is. Die ry geelhoutbome langs Durbanville-rylaan, asook die enkel bloekombome op Erf 1971, is nie vergiftig nie, volgens ‘n woordvoerder van die Stad Kaapstad. ‘
Afgekeur
Doep Muller, voorsitter van die skool se beheerliggaam, het sy kommer oor die vergiftiging van die bome uitgespreek. Volgens Muller was die skool die afgelope sowat 15 maande in gesprek met die Stad om die stuk grond te koop, maar is dit afgekeur omdat die grond geoormerk word vir toekomstige paduitbreidings, asook weens die aanwesigheid van die stormwater-retensiedam daarop.
“Ons is baie bewus van die erfeniswaarde van die bome en is bekommerd oor hoe dit lyk. Die Stad het ons ook daaroor gekontak. Dit is vir ons ‘n geweldig sensitiewe saak, omdat dit reg langs ons skool gebeur het. Ons het daarom iemand aangestel om die vergiftiging van die bome onafhanklik te ondersoek om agter die kap van die byl te kom. Nie net word die Laerskool Durbanville as ‘n gemeenskapskool beskou nie, maar ons is ook erg oor ons omgewing. Ons is nou in gesprek met die Stad oor die veiligheidsimplikasie van die dooie bome,” het hy aan TygerBurger gesê.
Volgens die Stad se woordvoerder is hulle bewus van die vergiftiging van die bome.
“Die terrein en die bome word deur amptenare van die departement van rekreasie en parke, insluitend die gebiedshoof en die Stad se boomkundige, geassesseer. Die kwessie word ook deur die departement se nakomingseenheid ondersoek. Sodra die skuldige geïdentifiseer is, sal die departement regstappe oorweeg om die koste van die verlies van die bome te verhaal.
“Die stuk grond is ideaal om nuwe bome aan te plant. Dit word aanbeveel dat ‘n mini-boomtuin daar aangeplant word,” het die woordvoerder gesê.


