Die Spur-restaurant in die Brackenfell-sakekern het Sondagaand vir die derde keer in drie jaar onder gewapende rowers deurgeloop.
“Die twee gewapende rowers het om sowat 21:00 die restaurant binnegestap en gevra vir ’n tafel vir twee,” sê kapt. Erica Crous, ’n polisiewoordvoerder.
“’n Paar minute later het hulle die bestuurder, ’n 27-jarige vrou, nadergeroep en ’n vuurwapen op haar gerig. Hulle het aangedring op die kontant in die kasregister en ook die sleutel van die kluis. Volgens inligting wat ons ontvang het, het die bestuurder effens gehuiwer, waarop die een rower haar met sy vuurwapen se kolf oor die kop geslaan het,” sê Crous.
Die rowers is daarna vort met ’n onbekende bedrag kontant, ’n ses-pak bier en ’n bottel J&B whisky.
’n Derde verdagte het by die deur vir hulle gewag.
Crous sê daar was vyf personeellede en drie kliënte in die winkel ten tyde van die roof.
Geen skote is afgevuur nie en niemand is ernstig in die voorval beseer nie.
Die Brackenfell-polisie ondersoek ’n saak van besigheidsroof.