Faiza Cox by The Haven-nagskuiling, waar sy nou werk nadat sy daar vir hulp aangeklop hetFOTO: Nielen de Klerk


Sy was 28 jaar lank haweloos. Sy was ’n prostituut, ’n bendelid, ’n rower. Sy is tronk toe en het jare se dwelmmisbruik oorleef.

Agt jaar lank het sy, Faiza Cox (48), in ’n plakkershut langs The Haven-nagskuiling gebly voordat sy besluit het genoeg is genoeg, dis tyd om daar aan te klop en haar lewe te verander.

En wat ’n lewe is dit nie.

Faiza, wat nou voltyds as veldwerker by The Haven werk, sê dis makliker om haar storie by die begin te begin, en die begin wys hoe ver sy gekom het.

Sy wil nie eens by haar onlangse troue met Rushdi begin nie.

Einste Rushdi, wat sy ook by die skuiling ontmoet het en oor wie sy nie kan ophou glimlag nie.

Gebroke sprokie

Hier is die begin, of altans, die begin van die sleg: Faiza se sprokie het begin ontspoor toe sy ná skool met ’n man getrou het wat haar fisiek en emosioneel aangerand het.

Hulle het drie kinders gehad, van wie een by geboorte deur ’n verlangse familielid aangeneem is.

Sy en haar man is geskei en haar ma in Mitchells Plain het hul kinders ingeneem.

Maar toe Faiza eers begin Mandrax gebruik, kon haar familie dit nie meer met haar uithou nie.

En sy wou nie meer daar wees nie. Sy het op straat begin slaap.

“Enige plek waar ek plek kon kry.”

Sy is Wynberg toe, waar sy as prostituut begin werk het om te oorleef en dwelms te bekostig.

Later het dit ’n bose kringloop geraak – jy kan nie ’n prostituut wees sonder om hoog te wees nie, sê sy, maar moet die werk doen om dwelms te koop.

“Jy kan nie nugter wees en dit doen nie.”

Snags het sy so agt tot 10 kliënte gehad.

Sy’s ook dikwels verkrag deur mans wat nie wou betaal nie.

Een het haar op ’n dag met ’n skerp voorwerp in die arm gesteek en sy was vir maande in die hospitaal.

Tydens die Wêreldbeker-sokker in 2010 het sy geleer om nóg ’n vlak van sukses te bereik.

Sy het goedere van kliënte begin steel en toe sy daarna Bellville toe trek, het dit net vererger.

Sy kon tot R5000 per aand maak met die steel van fone en skootrekenaars, wat haar spesialiteit geword het.

Al hierdie geld is na haar pimp toe (’n man wat prostitute beheer en vir hulle kliënte reël, terwyl hulle ook ’n deel van die inkomste neem).

Later het sy in plakkershuise gebly – eers in Stikland en toe onder die Tienie Meyer-brug.

Dis daar waar sy geleer het om ander te beroof en waar sy ook lid van die 28’s-bende geword het.

Haar modus operandi was om na ’n vrou by die taxihalte te loop en ’n mes uit te pluk, terwyl twee medepligtiges bystaan.

Sy is in hierdie tyd tronk toe gestuur – juis vir roof en vir poging tot moord.

Omkeerpunt

Toe sy uit en langs The Haven-nagskuiling haar plakkershut inneem, was dit net omdat die area veiliger is, nie om naby die skuiling te wees nie.

Sy het dwelms begin verkoop en was self ’n pimp.

Dit was ’n rowwe tydperk.

“Ek was nie bang vir enigiemand nie. Dit is wat dwelms doen.”

Maar die skok het gekom toe haar oudste dogter (26) twee jaar gelede dood is.

Sy was ’n heroïenverslaafde, wat aan TB dood is.

Haar seun dien tans 15 jaar gevangenisstraf vir moord uit.

Sy raak ’n oomblik stil.

“Ek moes myself vergewe.”

Drie maande later het iemand haar plakkershut aan die brand gesteek.

“Hulle kon nie die deur oop kry nie; ek moes dit oopskop.”

Sy sê dit was die eerste keer dat sy na God toe uitgeroep het, wat sy sê vir haar transformasie verantwoordelik is.

Sy is vir twee weke met brandwonde hospitaal toe en toe sy huis toe kom, was dinge anders.

Sy het vir ’n vriendin gesê sy’s nou klaar met alles.

Die vriendin het vir George Narkedien, hoof van The Haven, genader.

“George was my grootste nagmerrie,” sê Faiza.

“Hy’t altyd hier buite gestaan en vir my geskree ek moet na The Haven kom.”

Toe sy instap, het George vir haar gevra of sy regtig reg was.

Sy was. Sy het byna dadelik met The Haven se programme begin.

Eers is sy by die Sultan Bahu-dwelmrehabilitasiesentrum ingeboek en het daarna ander selfontwikkelingsprogramme by The Haven gevolg.

Sy het ook saam met ander inwoners by die nagskuiling kerk begin bywoon.

Hoewel sy as Moslem gebore is, het sy haarself na Christenskap bekeer.

“Jesus het my hele lewe verander.”

’n Nuwe begin

Sy het ook by die skuiling vir Rushdi ontmoet, wat ook in daardie stadium haweloos was en voorheen aan dwelms verslaaf was.

Die twee was gou verlief, maar die verhouding het nie sonder uitdagings gekom nie, omdat sy nooit so ’n soort liefde geken het nie, sê sy.

“Hy’t soms in die skuiling ingeloop en net vir my ’n blom gebring,” glimlag sy.

“Hy’t vir my gesê ek’s pragtig.”

Vroeër vanjaar by die kerk, voor al hul vriende, het hy op sy een knie gegaan en haar gevra om te trou.

“Hy’t net skielik vertel wat ek vir hom beteken.”

Toe hulle ’n paar weke gelede getroud is, het hulle die onthaal by die skuiling gehou.

En George, in ’n stadium “haar ergste nagmerrie” en nou “die beste vaderfiguur ooit”, het haar die paadjie af begelei.

Ondersteuners en vriende het ingespring en die hele troue is geborg – koek, rok en al.

Almal in die skuiling het die area versier en haweloses van buite en binne het almal saam makietie gehou.

Hulle laat bou nou ’n huis in Mitchell’s Plain op ’n erf waar ’n familielid bly.

Rushdi werk ook nou as ’n voertuigbestuurder en die twee bou saam aan hul sprokie.

As veldwerker loop sy daagliks verby haar hawelose vriende en probeer hulle oortuig om hulp te kry.

“Ek is nou baie gelukkig,” sê sy.

“Ons het altyd pret hier in die skuiling. En dis alles God.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article