Met die Paralimpiese Spele wat vir haar wink, droom ’n gestremde atleet van Brackenfell groot.
Elanza Jordaan (24) het in Julie saam met haar spanmaat, Karabo Maropedi van Bloemfontein, goud vir Suid-Afrika by die Wêreld-Boccia se Afrikastreek-kampioenskap in Kaïro verwerf.
Dié oorwinning het hulle ook ’n kwalifikasie verseker vir die Paralimpiese Spele, wat in Augustus 2024 in Parys plaasvind.
Dit was ’n historiese oomblik vir Suid-Afrika, wat nog nooit voorheen verteenwoordiging in dié sport by die Paralimpiese Spele gehad het nie.
Elanza, wat serebrale parese het, is tans 30ste op die BC3-kategorie se wêreldranglys, en saam met Karabo in die 21ste plek vir die BC3-parekategorie.
Boccia is ’n binnenshuise sport soortgelyk aan rolbal vir fisiek gestremdes in rolstoele. Die BC3-kategorie is vir erge fisieke gestremdhede, waar die speler weens lokomotoriese disfunksie in al vier ledemate nie self die bal kan rol nie.
Die sport is ontwerp vir mense wat serebraal verlam is en/of ander motoriese gestremdhede het. Dit word in meer as 40 lande beoefen en het in 1984 ’n paralimpiese sport geword. Die sport word nie in ouderdomskategorieë gespeel nie.
Individueel of in spanne
Elanza en haar ma, Sandré, het verlede week ’n tydjie uit hul besige oefenprogram afgeknyp om met TygerBurger te gesels en ook te demonstreer hoe die sport werk.
“Boccia kan individueel of in spanne van twee gespeel word. Daar word met leerballe gespeel – rooi en blou – wat so naby moontlik aan die wit bal gerol moet word,” verduidelik Sandré, wat ook Elanza se amptelike assistent in die sport is.
In die BC3-kategorie word dit gedoen met behulp van ’n geut. Die assistent sit met haar rug teen die baan en mag nie omkyk nie. Sy neem slegs instruksies van die speler oor watter soort bal om te gebruik en waar om die bal in die gleuf te posisioneer.
Die soort bal – hard of sag – en die spoed waarmee dit teen die geut afgly sal bepaal hoe die bal sal rol.
Die speler is self verantwoordelik vir die rol van die bal en die strategie van die spel. Wanneer die bal in plek is, moet die speler self die bal losmaak met wat ons ’n pointer noem,” sê Sandré.
Dan is dit die beurt van die ander span wat ook moet probeer om hul bal so naby as moontlik aan die wit bal te rol.
Vir elke bal wat nader aan die wit bal as die teenstander se bal is, kry jy een punt.
Die span wat aan die einde van die wedstryd die meeste punte het, wen.
Die aantal balle en rondes per wedstryd wissel. Die individuele wedstryde bestaan uit vier rondes en elke spanlid het ses balle.
“Boccia is ’n baie tegniese spel en die atleet moet planne maak om slimmer en meer akkuraat as die opponent te speel,” sê Sandré.
“My ma is basies my hande. As speler bepaal ek elke rol van die bal. Tydens die spel moet ses balle binne ses minute gerol word, dit wil sê jy het een minuut om een bal te speel. Dus moet jy blitsvinnig dink om jou strategie te bepaal,” sê Elanza.
Sy sê die sportsoort verg goeie beplanningsvermoë, stamina en streshantering.
“Jy moet vinnig kan dink en baie fyn mik. As gevolg van my kondisie is dit ook fisiek uitputtend omdat my spiere saamtrek as gevolg van die inspanning. Dit lyk maklik, maar is glad nie. Dis baie uitdagend en daar is altyd iets nuuts om te leer,” sê sy.
As leerder by die Paarlskool vir neuraal gestremdes het sy op 14 jaar met die sport begin nadat haar fisioterapeut haar daaraan blootgestel het.
Sedertdien het sy ’n passie vir die sport ontwikkel en al verskeie goue medaljes by nasionale kampioenskappe vir gestremde atlete verwerf.
In Desember 2022 is sy uitgenooi om aan die Wêreld- Boccia-kampioenskap in Rio de Janeiro deel te neem en in 2023 is sy deur die Western Cape Sport Association for the Physically Disabled aangewys as die Senior Sports Woman of the Year with a disability.
Vir Elanza is dié droom om ’n Paralimpiese atleet te word nog nie werklikheid nie.
“Om aan die Paralimpiese Spele deel te neem is een van my grootste drome, en ek kan nog steeds nie glo ek het gekwalifiseer nie,” sê sy.





