‘n Swanger vrou, haar man en hul tweejarige kleuter is Sondag 6 Julie omstreeks 16:30 by die hek van hul woonkompleks in Durbanville deur ‘n gewapende man op ‘n fiets beroof.
Die vrou, wat meer as ses maande swanger is, en haar man het met hul dogtertjie om die blok gaan stap. Toe hulle terugkeer by hul kompleks op die hoek van Hafele- en Windellstraat, het hulle ‘n man op ‘n fiets aan die oorkant van die pad opgemerk.
“Ek het niks daarvan gedink nie, want daar is baie bouery in ons omgewing en ons sien gereeld mense in ons straat. Ons dogtertjie speel altyd so ‘n bietjie in die waterpoele nadat ons gestap het, voor ons by die kompleks se hek ingaan. Die volgende oomblik toe staan die man agter ons met ‘n vuurwapen op ons dogtertjie gerig en beveel ons om ons selfone te oorhandig,” het die man aan TygerBurger gesê.
Dreig om te skiet
Die vermeende rower, wat ‘n “hoodie”, ‘n “buff”” oor die onderkant van sy gesig en ‘n sonbril gedra het, het gedreig om die kind te skiet as hulle nie hul fone oorhandig nie.
Die vrou het haar foon weg van hom gegooi om hom van hulle weg te kry. Toe die rower sy rug op haar draai om die foon op te tel, het die vrou se man die afstandbeheerder gedruk om vir sy vrou die kompleks se hek oop te maak. Hy het terselfdertyd die rower platgeduik. ‘n Skermutseling het tussen die twee mans ontstaan en die vrou het hard om hulp geskree.
Twee mans van die kompleks was binne sekondes buite om hom te help en hulle kon die man vastrek en het met kabelbinders sy hande en voete vasgebind.
Daar is ook ‘n knipmes en ‘n skroewedraaier by hom gevind. Hy het ook ‘n tikpyp by hom gehad. Hy het in Engels en Afrikaans die mans gedreig dat hy sy vriende sou roep om hulle te kom doodmaak. Dit het toe geblyk dat die vuurwapen ‘n 9mm PAK-gaspistool is.
Die sekerheidsmaatskappye ADT en Gardier was binne minute op die toneel en het hom herken as ‘n bekende misdadiger in die area, sê ‘n ooggetuie.
Die polisie is dadelik in kennis gestel, maar het eers na ‘n uur en ‘n half opgedaag.
Polisie vat ‘n uur en ‘n half
Verskeie verdere oproepe, deur die omstanders asook die sekerheidsbeamptes, is na die Durbanville-polisiekantoor gemaak, maar die verskoning was elke keer dieselfde – daar is geen beskikbare voertuie om uit te kom nie.
“Dit was bitter teleurstellend in die lig van die weerloosheid van die slagoffers, en veral omdat die voorval skaars 400 m van die polisiestasie gebeur het. Die polisiebeamptes kon bloot in die straat afstap om die man te kom haal. Die man is uiteindelik na ‘n uur en ‘n half in hegtenis geneem en na die polisiekantoor toe geneem. ‘n Speurder ondersoek die saak,” sê een van die inwoners.
Volgens die inwoner is daar twee kleuterskole, asook die La Vigne-privaatskool, in die omgewing. “Wat gebeur het, is baie kommerwekkend. Daar is ook verskeie boubedrywighede in die area.”
Die voorval kom slegs enkele maande nadat die gesin vanaf Durban na Kaapstad verhuis het, juis in die hoop op ‘n veiliger omgewing waar hulle hul kinders kan grootmaak.
Getraumatiseerd
Volgens die ooggetuie was die hoogswanger vrou en die kleuter albei erg getraumatiseerd. Haar man het kopwonde opgedoen en is na die voorval in die Mediclinic Durbanville behandel en het onder meer steke ontvang. Hy het daarna ‘n verklaring by die polisiestasie gaan aflê. “Ek moet sê by die polisiestasie was die diens goed, ook dié van die speurder wat die saak ondersoek,” sê die man.
Volgens Google Maps is dit slegs ses minute se stap vanaf die kompleks na die misdaadtoneel. TygerBurger het die polisie om kommentaar genader oor waarom die polisiebeamptes nie net na die misdaadtoneel gestap het by gebrek aan ‘n voertuig nie, maar het teen die tyd van publisering van die berig aanlyn nog geen terugvoer ontvang nie.

LEES OOK: Father robbed at gunpoint, shots fired in drive-through at McDonald’s in Durbanville


