Durbanville-Bellville, een van die voorbokke in die WP se Superliga-klubrugbykompetisie, moes die afgelope naweek behoorlik wal gooi om ’n dreigende nederlaag teen die span van St. George vry te spring.
Die onbesonge St. George het die Durbies deeglik vasgevat en in foute ingedwing. Maar die Durbies het nogtans vasgebyt en met 19-17 deurgeskraap.
Kuilsrivier daarenteen het in ’n ander topafdeling-kragmeting die wind van voor gekry teen Helderberg en moes met ’n telling van 24-47 bes gee.
Bellville is in die B-afdeling naelskraap getroef deur Kraaifontein se Hands & Heart, maar dit was inderdaad tog ’n besonder suksesvolle naweek vir die Tygerbergers. Afgesien van Hands & Heart se naelkou-oorwinning van 25-24 oor Bellville, was Kraaifontein-klub (54-22 teen All Saints) en Belhar (23-22 teen Kylemore) die tevredenes in hul onderskeie wedstryde.
Goodwood stoomroller steeds voort in die C-afdeling. Hierdie keer moes Rangers dit ontgeld met ’n afranseling van 64-8 deur Goodwood. Scottsdene het egter naelskraap 23-24 op sy baadjie gekry van Blue Jets.
- Durbanville-Bellville t Schotsche Kloof/Walmer
- Helderberg t Noordelikes-Tygerberg
- Brackenfell t St. George
- Kuilsrivier t Tygerbergklub (almal A-afdeling)
- Vineyards t Hands & Heart
- Franschhoek t Bellville (B-afdeling)
- Masiphumelele t Goodwood (C-afdeling)


