Subraad 14 se planne vir Kuilsrivier: R1 miljoen aan wykbegrotings toegeken

Die voorsitter van subraad 14 wat in Kuilsrivier gesetel is, Johan van der Merwe, herinner dat die Stad Kaapstad tans in die 2024/2025- finansiële boekjaar is.


Die voorsitter van subraad 14 wat in Kuilsrivier gesetel is, Johan van der Merwe, herinner dat die Stad Kaapstad tans in die 2024/2025- finansiële boekjaar is.

Subraad 14 het sewe wyke, waarvan drie (wyke 11, 14 en 19) in geheel (11) of gedeeltelik (14 en 19) binne Kuilsrivier val. Jaarliks word ’n bedrag van R1 miljoen (vir die boekjaar wat 1 Julie begin) aan elke wyk toegeken (wyksbegroting) om in oorleg met die wyksraadslid en wykskomitee te bestee.

Van der Merwe sê die raadslede en wykskomitees is tans besig met die proses om insae te kry en voorstelle te oorweeg vir besteding aan projekte in elke wyk vir die 2025/2026-boekjaar.

Die projekte waarop besluit word vir besteding, moet dan deur die lede van die subraad op ’n subraadvergadering goedgekeur word. ’n Bykomende bedrag van R1,9 miljoen is vir die huidige boekjaar aan subraad 14 toegeken.

“Die lede van die subraad besluit op watter projekte binne die subraad se grense die geld in die boekjaar bestee word”, sê Van der Merwe.

Die Stad se onderskeie lyndepartemente bestee ook jaarliks geld binne die subraad se gebied.

Van der Merwe sê in die huidige boekjaar word die begrotingstoewysings (die R1 miljoen) vir die onderskeie wyke meestal aangewend vir die opknap van parke, spoedkalmering, LPR-kameras en opleidingsprogramme vir inwoners.

“In wyke met biblioteke is geld vir onder meer die aankoop van boeke bewillig.”

Die ekstra R1,9 miljoen wat aan die subraad toegewys is, word in wyke 16, 17 en 19 aangewend vir die onderhoud van strate, asook vir wetstoepassing, sê Van der Merwe.

Daar is ook kapitale projekte binne die grense van subraad 14 wat uit die Stad Kaapstad se kapitale begroting befonds word. Hierdie projekte word gewoonlik oor ’n tydperk van drie jaar gefinansier.

Dit sluit onder meer die volgende in:
  • Die opknap van Kuilsrivier se informele handelsgebied (agter Shoprite), wat die oprig van strukture insluit;
  • Die konstruksie van die Zevenwacht-reservoir en waternetwerk;
  • Die verlenging van die Zevenwacht-aansluitingspad (Link Road) tot by Van Riebeeckweg (vir die toekomstige uitskakeling van die Buttskop-padspoorkruising);
  • Die opknap van die Happy Valley openbare-vervoernodus;
  • Fase 2 van die nie-gemotoriseerde vervoernetwerk (wat fietspaaie en sypaadjies insluit) in Kuilsriver;
  • Die verlenging van Saxdownsweg tussen Langverwachtpad en Van Riebeeckweg om verkeersdruk te verlig.

Van der Merwe sê besteding word maandeliks deur die subraad gemonitor en as dit nie na wense verloop nie, word dit ondersoek.

Besoek www.capetown.gov.za as jy onseker is in watter wyk jy woon.

You need to be Logged In to leave a comment.