Terwyl vreugdevure vandeesweek in Suid-Afrika hoog gebrand het oor die Springbokke se oorwinning in die Rugby-wêreldbekertoernooi het ’n beskeie mediese student aan die Universiteit Stellenbosch (US) nog ’n prysenswaardige prestasie behaal – deur 1 500 km per fiets af te lê.
Sarah Camp (25), ’n finalejaar mediese student van die US se Tygerberg-kampus, het op 4 November in Hillcrest net buite Durban in KwaZulu-Natal (KZN) aangekom nadat sy 10 dae lank vanaf Worcester deur Suid-Afrika fietsgery het.
Geïnspireer deur prof Thuli Madonsela se inisiatiewe om studente se universiteitskuld te help verlig, het die jong dokter-in-wording ’n veeleisende reis voltooi om geld in te samel vir #Action4Inclusion, ’n studenteskuldverligtingsinisiatief deur die Sentrum vir Sosiale Geregtigheid (SSG) aan die US.
Om haar prestasie in perspektief te stel: Teen ’n gemiddeld van 150 km per dag het sy vir tien dae aaneen daagliks verder as deelnemers aan die Kaapstad-fietstoer gery. Oftewel ’n Suid-Afrikaanse weergawe van die Tour de France kafgedraf. “Geen wonder my sitvlak voel nogals voos nie,” het Camp geskerts met haar tuiskoms by haar ouerhuis in Hillcrest.
Camp het al vantevore haar uithouvermoë op die proef gestel en haar staal gewys. Sy het meer as 230 km te voet afgelê in die Drakensberge en die lengte van die Teemsrivier (330 km) in ’n kano geroei in Engeland. Vroeër vanjaar het sy haar eerste Comrades Marathon aangedurf – een van die uitmergelendste ultra-marathons ter wêreld.
Camp se epiese fietstog het douvoordag op 26 Oktober begin by die US se Ukwanda Mediese Skoolkampus in Worcester. Sy het kort ná middagete op Saterdag 4 November haar ouerhuis in KZN bereik. Oor tien dae het sy die breedte van die land deurkruis – van die Wes-Kaapse wynlande, deur die dorre Karoo-hartland, oor die golwende heuwels en ruie berge van die Oos-Kaap en uiteindelik af na die lowergroen ooskus van KZN.
Sy het meer as R20 000 ingesamel vir die verligting van studenteskuld op haar fondsinsamelingsplatform op GivenGain.
“Ons gradeplegtigheid is net om die draai maar vir baie van my klasmaats is daar min rede vir vrolikheid, want hulle sal nog lank moet spook om hul studieskuld te betaal,” het Camp verduidelik.
Camp is passievol om studente te ondersteun wat nie vir die volgende akademiese jaar kan registreer nie weens uitstaande studentegelde, sowel as studente wat hul studies voltooi maar nie kan graadvang nie weens studenteskuld.
“Toegang tot onderwys behoort nie van welvaart af te hang nie,” het Camp gesê. “Op my beskeie manier wou ek my deel doen om talentvolle jong professionele mense te help om die loopbaan-hupstoot te kry wat hulle verdien.”
Camp moes talle struikelblokke van haar eie oorkom voordat haar avontuur kon begin. Sy moes eerstens haar professore oortuig om haar en die vriendin wat haar per motor begelei het, Bianca Tout (ook ’n mediese student), af te gee van hul hospitaaldiens. Sy moes seker maak al haar akademiese werk is op datum, sy moes ’n fiets leen en reëlings tref vir borgskappe vir brandstof en verblyf langs die pad, en laastens die belangrikste hindernis: om haar geliefdes te oortuig dat sy al die nodige veiligheidsmaatreëls sou tref tydens haar epiese reis (insluitend ‘n veiligheidsbaadjie en ’n helder flikkerende lig om sigbaarheid op die pad te verseker).
“Ek hoop die reis het gehelp om bewusmaking te skep en geld vir studente in te samel sodat meer verdienstelike jong Suid-Afrikaners toegang tot die onderwys kan kry soos wat hulle verdien. Almal van ons kan op ons unieke manier ‘n verskil maak,” het Camp benadruk en almal wat ’n bydrae tot haar poging gemaak het bedank.
Madonsela, direkteur van die SSG, was een van die eerste mense wat Camp gelukgewens het. “Sarah se rit hou die vlam van hoop aan die brand tot tyd en wyl ons Pelgrimstog van Hoop hervat word van 20 Januarie tot 2 Februarie volgende jaar. Sarah se gebaar is gegrond in ubuntu en diepe menslikheid,” het sy bygevoeg.
US rektor en visekansellier prof. Wim de Villiers, het Camp ook gelukgewens en gesê haar vasbeslotenheid versinnebeeld die gees van die US-gemeenskap.
Prof. Elmi Muller, Dekaan van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, het gesê die Tygerberg- en US-gemeenskap is geweldig trots op Camp. “Haar prestasie is werklik merkwaardig, nie net in terme van die indrukwekkende afstand wat sy afgelê het nie, maar ook die ongelooflike toewyding wat dit geverg het om 150 km per dag vir tien dae aaneenlopend te ry. Wat haar prestasie nog meer inspirerend maak, is die feit dat sy die merkwaardige reis onderneem het om geld in te samel vir haar medestudente. Sarah is ’n fantastiese voorbeeld van vasberadenheid en deernis en sy dien as ’n inspirasie vir ons almal.”
- Mense kan steeds bydraes maak tot Camp se geldinsamelingspoging deur ’n skenking te maak op haar aanlyn GivenGain-profiel.