‘n Student van die Kaapse Skiereilandse Universiteit van
Tegnologie (KSUT) het vanoggend in die landdroshof in Bellville verskyn op
aanklagte wat verband hou met die oproer by KSUT.
Byron
Dicks (26) is aangekla van poging tot moord, brandstigting, openbare geweld en die
verbreking van ‘n hooggeregshofbevel.
Die sekerheidskantoor en die hoofingang van KSUT in
Bellville is omstreeks middernag op Dinsdag deur betogers aan die brand gesteek.
Twee sekerheidswagte is binne ‘n brandende gebou toegesluit, maar is bevry.
Hulle het rookinaseming opgedoen.
Dicks sal in aanhouding bly tot 20 Oktober sodat sy adres en
ander besonderhede nagegaan kan word.