Ondanks die gure weer wat die afgelope week of meer oor groot dele van die Kaap voorgekom het, het sekere gebiede soos Monte Vista, Plattekloof, Panorama, Welgelegen en Kleinbosch in Wyk 1 daarin geslaag om erge skade en oorstromings deur die stormweer vry te spring.
Wyk 1 is een van die grootste van 116 wyke in die Stad Kaapstad.
Ten spyte van die minimale skade moes inwoners van Thunbergstraat in Monte Vista vir ’n kort ruk sonder krag klaarkom nadat stormsterk wind ’n boom se takke aan elektriese drade laat raak het.
Cheryl Visser, wyksraadslid, sê die probleem is spoedig opgelos.
Volgens haar het inwoners in dié straat tydens die stormweer onderbrekings aan hul kragtoevoer ervaar weens bome se takke.
Die takke het weens die sterk wind aan die hoëspanning- elektriese drade geraak.
“Dit het gelei tot sporadiese kragonderbrekings, wat vir die inwoners van Thunbergstraat groot ongerief veroorsaak het,” sê Visser.
Die Stad Kaapstad se energiedepartement het die probleem vinnig opgelos deur die bome te snoei.
“Die werk is suksesvol voltooi en die kragprobleme is nou opgelos. Ek waardeer die vinnige en doeltreffende optrede van die span en wil hulle ook bedank dat hulle probleme altyd vinnig en professioneel aanpak,” sê Visser.
Min stormskade
Sy het aan TygerBurger gesê die minimale skade in die gebied is danksy opknapwerk en instandhoudingswerk wat gedoen is.
“Wyk 1 is in die bevoorregte posisie dat ons geen oorstromings die afgelope week beleef het nie.
“Dit kan toegeskryf word aan die uitstekende en harde werk wat verlede jaar deur die Stad se paaie- en stormwaterdepartement gedoen is.
“Stormwaterdreine is skoongemaak. Ons het groot hulp ontvang van inwoners wat verstopte dreine aangemeld het.
“Verlede jaar is die stormwaterstelsel in Westerwijkstraat en die Grosvenor-gebied in Plattekloof Glen opgeknap. Die stormwaterpype in Monte Vista-boulevard, in die omgewing van Camoens Park, is ook opgeknap.
“Hierdie verbeterings het ’n groot rol gespeel in die minimalisering en uitskakeling van oorstromings,” sê Visser.
Sy het haar dank aan die paaie- en stormwaterdepartement uitgespreek vir al hul pro-aktiewe werk in Wyk 1.
“Dit is belangrik dat inwoners verstopte stormwaterdreine rapporteer deur 086 010 3089 of 080 065 6463 te skakel,” sê Visser.


