Met stormsterk wind en deurdringende reën wat die afgelope naweek oor die Wes-Kaap gewoed het, is verskeie oorstromings in TygerBurger se verspreidingsgebiede aangemeld.
Sondagaand het Alan Winde, die Wes-Kaapse premier, in ’n verklaring gesê 1 000 informele woonstrukture is reeds deur die storm verwoes en noodreddingsdienste is op ’n gereedheidsgrondslag geplaas om in te spring. Meer as 4 000 mense is reeds dakloos gelaat en hulle word deur Gift of the Givers en amptenare van die Wes-Kaapse regering ondersteun.
In Eersterivier het water in onder meer Gemsbokstraat opgedam, wat die beweging van voertuie bemoeilik het. In verskeie ander plekke, waaronder Elsiesrivier, is probleme met elektrisiteit aangemeld.
In 35ste Laan in Elsiesrivier het booswigte die oorstromings tot hul voordeel gebruik en klippe in die water gesit sodat motors nie daardeur kon ry nie. Wanneer die motors tot stilstand kom, is insittendes beroof.
Luidens ’n verklaring deur die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) het 29 skole skade weens sterk wind en swaar reën aangemeld. “Die meerderheid van die skole het lekkasies in dakke en klein oorstromings aangemeld. Drie skole het groter skade aangemeld nadat dakke afgewaai is. Die departement is in kontak met die skole,” lui die verklaring.
Skole het gister heropen ná die skoolvakansie en die departement het ’n beroep op leerders gedoen om reënjasse, sambrele en waar moontlik reflekterende klere te dra. “Ouers en leerders moet asseblief versigtig wees op die paaie. Die winter is beslis hier en daar gaan nog baie nat dae in die kwartaal wees. Die WKOD hou die situasie dop en sal met skole in kontak kom as iets opduik,” lui die verklaring verder.
Eskom het ook in ’n verklaring aangedui dat daar kragonderbrekings in Belhar was weens sterk wind. Die elektrisiteitstoevoer is intussen herstel.


