Mauricia Petersen se rubriek “Wat beteken dit om op te pak en ‘against all odds’ te lewe?” (TygerBurger 8 Oktober), het my herinner aan soveel mense wat ek in ‘n lang lewe ontmoet het en wat ook daardie besluit moes neem; bly en word ingetrek in die toksiese omgewing rondom jou, byvoorbeeld problematiese familie, totdat daar geen uitkomkans meer is nie en jyself ook in ‘n uitsiglose sukkelbestaan vasgevang word.
Of neem die dapper besluit om jou eie paadjie te loop – dikwels hartseer en eensaam maar met die moontlikheid van ‘n beter, meer vervullende toekoms.
Eersgenoemde is die maklikste pad, die pad van oorskatte lojaliteit teenoor mense wat alte dikwels hul eie ondergang bewerkstellig deur middelmisbruik, promiskuïteit, wanaanpassing, misdadigheid – noem maar op, dis universeel. Laasgenoemde is die moeilike pad, met verguising en skelwoorde oor jou “selfsug” en dies meer.
Maar, Mauricia, ek kan ook getuig dat eersgenoemde pad ‘n doodloopstraat is vir diegene wat dit kies en laasgenoemde in die oorgrote meerderheid van gevalle lei tot ‘n nuwe begin en ‘n gelukkiger einde. Byt maar net vas. Werk hard, en dink goed en deeglik na voordat jy jou keuses vorentoe maak, want dikwels maak mense verkeerde keuses wat hulle teruggooi na waar hulle was – bloot omdat dit bekend voel of lyk. Sterkte daar!
Ou Tannie, Durbanville


