FOTO:

Kookpunt word bereik ten spyte van Step Up se eerbare doel en talle vennootskappe om plaaslike dwelmverslaafdes teen oordraagbare siektes soos tuberkulose (TB) en die menslike immuniteitsgebreksvirus (MIV) te beskerm.

Die groot vraag bly: “Wie beskerm die skoolkinders, kerke en wetsgehoorsame inwoners teen openlike dwelmgebruik met vuil pienk naalde wat in die strate rondlê?”

Pienk naalde wáár jy kyk

Ten spyte van die Voortrekkerwegkorridorverbe­teringsdistrik (VRCID) se vennootskap met TB HIV Care om die Step Up-program se fiets-inisiatief in Maart van stapel te stuur (“Bicycle box to the syringe rescue”, TygerBurger 20 Maart), word daar geen verbetering in die veilige verwydering van dié naalde getoon nie.

Die ondervoorsitter, Yollanda Fritz, en mede-patrolleerder van Oakdale-buurtwag, Erik Smit, kla dat hul lede baie van hierdie gratis, gebruikte naalde in parke en paaie optel – selfs wanneer dit in private eiendomme, kerk- en skoolterreinde gegooi word.

“ ’n Ooreenkoms met die VRCID help met die vernietiging van alle naalde wat in die buurt ingesamel is, om óf weg te gooi óf terug te gee aan Step Up.

“Dit los egter nie die probleem op nie, aangesien kinders in die parke speel en ons vrees die dag dat ’n kind in ’n besmette of gebruikte naald trap. Diere is in die verlede as gevolg hiervan beseer,” skryf Smit in ’n brief.

Die VRCID was nog altyd ’n voorstander van die naaldeprojek, voeg Michelle Lambrechts, bestuurder vir maatskaplike ontwikkeling, by.

Die vennootskap tussen TB/HIV Care en die VRCID het ontstaan om van die bekommernisse in die projek te verminder. Die fietsprojek het daaruit ontstaan.

“Ons werker het ’n vasgestelde roete wat hy daagliks deur Bellville neem. Van die begin van hierdie projek (in Maart) is tussen 100 tot 400 naalde per dag opgetel,”

 sê sy.

Lambrechts sê hoewel die Step Up-projek met sy eie negatiewe impakte kom, is die doeltreffendheid positief. “Uit die VRCID se oogpunt sal daar altyd meer maniere wees hoe ons kan help; dit is wel nie altyd moontlik met ons finansiële/operasionele hulpbronne nie.”

Die VRCID se voorstelle vir ’n groter positiewe impak behels:

  • meer fietse met ’n personeellid wat elkeen sy eie, kleiner gebiede het vir die opruim van naalde;
  • om ’n veilige ruimte te skep waar mense hul dwelms gebruik en op die perseel naalde kan weggooi. “Hierdie is egter nie ’n raamwerk of diens wat die VRCID kan voorsien nie.”

Verder beoog hulle om meer gemeenskapsbewusmaking oor die kwessie te doen.

FOTO:

FOTO:

FOTO:

FOTO:

Van die vuil naalde is gekry op skool- en kergronde.FOTO’s: Verskaf

“Die gemeenskap kan ons kontak as hulle ’n groot aantal naalde êrens sien sodat ons span kan gaan om dit te verwyder.”

TB HIV Care: Step Up

Mfezi Mcingana, TB HIV Care se programdirekteur bevestig dat hul Step Up-projek sedert 2015 in Kaapstad funksioneer.

In terugvoer oor Smit se brief het Mcingana onder meer geantwoord: “Ons het berigte ontvang van 110 naalde wat deur wetstoepassingsagentskappe gekonfiskeer is.

In sommige gevalle het hierdie beslagleggings bygedra tot onbehoorlike weggooi van naalde.”

Hy het aan TygerBurger verduidelik Step Up-begunstigdes meld dikwels dat hulle deur wetstoepassers deursoek en ’n profiel oor hulle opgestel word weens hul hawelose status.

“Om te verhoed dat hulle in besit van inspuittoerusting gevind word (en uit vrees vir inhegtenisneming) gooi sommige individue hul naalde – beide steriel en gebruik – weg wanneer hulle wetstoepassers teëkom, wat lei tot onbehoorlike wegdoening.

“Ons beklemtoon die belangrikheid daarvan om werksessies met wetstoepassingsagentskappe te hou om ’n meer ondersteunende benadering te bevorder,” meen Mcingana.

Premier en Stad Kaapstad

Regan Thaw, woordvoerder van Alan Winde, Wes-Kaapse premier, sê Winde is bewus gemaak van die kommer oor gebruikte naalde wat in die openbaar weggegooi word.

Thaw verduidelik dat hulle ’n werkgroep met veelvuldige belanghebbendes gestig het, insluitend uitnodigings na die wetstoepassingsdepartement.

“Hierdie werkgroep fokus op beste praktyke en samewerking tussen belanghebbendes om skade te verminder.”

“Ons moedig Networking HIV and AIDS Community of Southern Africa (Nacosa) en TB HIV Care, wat die Step Up-program implementeer, aan om gemeenskappe proaktief te betrek oor die program, die doelwitte sowel as uitkomstes en gemeenskapskwessies,” sê hy ter afsluiting.

By navraag het die Stad Kaapstad gesê die Stad se gesondheidsdepartement is nie bewus van enige klagtes wat verband hou met weggegooide naalde in Oakdale nie.

  • Die publiek word in kennis gestel dat klagtes vir enige potensiële openbare gesondheidsrisiko of bekommernis, by 0860 142 142 of per e-pos na service@westerncape.gov.za gerapporteer moet word.”
  • In ooreenstemming hiermee het Nacosa en TB MIV Care ’n klagteblitslyn gestig waar gemeenskappe bekommernisse of voorstelle kan deel om die programme te verbeter. Skakel 079 589 8834 om hulle te kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.