Marcel Fourie (gr. 11) en Paige Field (gr. 9) is danksy hul buigsame passies gedurende een van hul optredes by die Hoërskool Stellenberg persoonlik deur Amanda Bowden vir die Suid-Afrikaanse Samca-span gekies.


Nes brandende vlamme gedurende die somerseisoen versprei die relatief nuwe sport van cheerleading soos ’n veldbrand deur die Wes-Kaap.

En op plaaslike bodem is twee leerders vir die eerste keer in die Hoërskool Stellenberg se geskiedenis onlangs gekies om Suid-Afrika volgende jaar by die wêreldkampioenskap in Amerika te verteenwoordig.

Marcel Fourie (gr. 11) en Paige Field (gr. 9), se buigsame passies is gedurende een van hul optredes by Stellenberg soos ’n valkoog deur Amanda Bowden, direkteur van die South African Majorette and Cheerleading Association (Samca), dopgehou.

Talente opgeraap

Dié twee is persoonlik deur Bowden gekies om die nasionale span, tesame met leerders van onder meer die hoërskole Jan van Riebeeck, Stellenbosch, Generations en die Internasionale Skool van Kaapstad wat hul provinsiale kleure in die sport verwerf het, te verteenwoordig.

“Dit is ’n ongelooflike gevoel om vir SA’s in cheerleading te kwalifiseer. Alhoewel cheerleading nog so ’n klein sport in die Wes-Kaap en in die land is, gaan dit ’n baie groot impak in die volgende jaar maak met al dié betrokke skole wat as goeie kompetisie vir mekaar dien,” sê Marcel.

Vir Marcel Fourie en Paige Field is dit ’n besonderse eer om die pompon-sport in Suid-Afrika te help bevorder deur Suid-Afrika op die wêreldverhoog te verteenwoordig.

Vir Paige was dit van kleins af ’n droom om ’n pomponmeisie te word. “Die sport was nooit so groot in Suid-Afrika nie. Ek het die sport en kuns altyd nog net in Amerikaanse flieks bewonder, maar nou is die sport uiteindelik besig om sy voete in die land te vind”.

Aanvanklik het Paige haar talent vir die sport betwyfel, maar Stellenberg se span het haar onder hul vlerk geneem, ondersteun en danksy harde werk word haar droom nou bewaarheid.

Pompon-kampioenskap

Altesaam 26 leerders van hierdie skole, sowel as leerders van Gauteng, KwaZulu-Natal, Noord-Wes en die Vrystaat is lid van die Suid-Afrikaanse span vir die International Cheer Union (ICU) se wêreldpompon-kampioenskap in Orlando, Florida tussen 23 en 25 April volgende jaar.

“Suid-Afrika stuur sedert 2013, omstreeks elke tweede jaar, ’n nasionale span na die wêreldkampioenskap.

Maar nou fokus ons regtig op opleiding en ontwikkeling om ons landswye deelnemers op peil te bring,” vertel Bowden aan TygerBurger.

Volgende jaar neem Samca ses nasionale spanne oorsee.

“Dit sluit meisies- en gemengde spanne in, waarvan elk van die drie afdelings in jeug-, junior en senior ouderdomsgroepe sal deelneem. Stellenberg en ander hoërskole val in die junior ouderdomskategorie, en ons is bevoorreg om Paige en Marcel van Stellenberg in die span te hê.”

Stellenberg bereik hoogtes

Dít nadat Stellenberg eers verlede jaar sy pompon-span op die been gebring het. “En nou het twee van hul leerders reeds die SA span gehaal – dit is ’n besonderse prestasie,” voeg Bowden by.

Stellenberg het verlede jaar met ’n klein pompon-groepie weggespring, vertel die skool se departementshoof, Hilde Rensleigh.

“Hierdie jaar, onder die afrigting van Qaylah Beckman, het die groep baie ver gevorder. Sy het hierdie groep ongelooflik gedryf met wonderlike afrigting,” sê sy.

Stellenberg het vanjaar die provinsiale kampioenskap in Augustus gewen.

“Hierdie kinders moet kan dans, ’n roetine memoriseer en beskik oor ongelooflike atletiese en gimnastiek-vaardighede. Om só ’n sprong in die lug te doen, reg te land én mooi te lyk, én te glimlag én die gees op te beur, is ’n besonderse kuns,” meen Rensleigh.

“Ons is so trots op die tweetjies, Marcel en Paige, wat nou die wonderlike eer te beurt geval het om vir die nasionale span gekies te wees.

“Hierdie span, tesame met die wonderlike begeleiding van afrigters en Samca, gaan nog hoë hoogtes bereik wat rugby soos kinderspeletjies sal laat lyk!” sê Rensleigh.

You need to be Logged In to leave a comment.