Die broers Laurentius en Bouwer Schoonwinkel, veteraan vasbytstappers, op een van hul vele staptogte.


’n Span van ses stappers vanuit die noordelike voorstede van Kaapstad beoog om eersdaags ’n tog van Matjiesfontein tot in Sutherland aan te pak ten bate van behoeftige bejaardes.

Die span sal oor drie dae van 8 en 10 Junie altesame 110 km stap – 50 km op die eerste twee dae en op die laaste dag die laaste 10 km saam met inwoners van die dorp.

Geld wat met die Stap in Sutherland ingesamel word, sal aangewend word vir ’n beter lewe vir die 46 inwoners van Badisa se Johenco-tehuis vir bejaardes op Sutherland, sê Laurentius Schoonwinkel van Brackenfell, een van die organiseerders van die staptog.

“Baie mense weet van Sutherland, maar baie sal nie weet van die behoefte wat daar is nie,” sê hy.

Laurentius stap saam met sy identiese tweelingbroer, Bouwer, asook Ernest Botha en Eugene Marais van Bellville en Inge van der Westhuizen van Kraaifontein.

“Daar is reeds ’n paar betrokke, maar ons hoop om oud-Sutherlanders wat nou in die Kaap bly, by die insameling te betrek. Die komediant Draad Botha sal die naweek van die staptog optree ten bate van die tehuis en ons gaan ook baie staatmaak op wynverkope en donasies van die publiek,” sê hy.

“Daarmee saam wil ons ook op die Saterdag wanneer ons in Sutherland aankom, vir die oumense koek en tee verskaf. Die geld wil ons dan Sondag aan die tehuis oorhandig,” sê Laurentius.

Daar is tans 46 inwoners in die Johenco-tehuis, waarvan 19 subekonomies is, verduidelik Martie van Wyk, bestuurder van die tehuis.

“Dit beteken dat dié inwoners net 85% van hul Sassa-pensioen bydra vir hul verblyf, maar gelukkig is daar ’n subsidie wat help met versorging.

“Daar is tans net 17 inwoners wat hul eie geld het om te kan betaal vir verblyf en versorging,” sê sy.

“Altesame 29 van ons inwoners is afhanklik van die plaaslike kliniek vir hul pille. Ons kry nooit al die pille nie en moet dikwels pille aankoop om te verseker dat ons inwoners die nodige medikasie het. Verder kry ons nie doeke van die regering vir die Sassa-inwoners nie en dit moet ook deur die tehuis aangekoop word,” sê sy.

“Ons inkomste uit die verhuring van kamers en woonstelle is baie beperk omdat die meerderheid van ons inwoners arm is.

“Die afgelope jare se droogte het die families wat nog gesorg het, finansieel só geknou dat bydraes vanuit ons gemeenskap en families baie afgeneem het. Ons maak staat op geldinsamelingsprojekte.

“Daar is van ons inwoners wat nooit besoek ontvang nie en niemand het wat hulle van tyd tot tyd bietjie bederf nie, buiten die omgeegroepie wat vir elke inwoner op sy verjaarsdag eetgoed bring.” 

Die tehuis maak tans geld bymekaar om ’n brandalarmstelsel en kameranetwerk te laat installeer. Daar word ook beoog om ’n sonstelsel te laat installeer om die tehuis se elektrisiteitsrekening te verlaag.

  • Bel Laurentius Schoonwinkel by 084 206 6201 om by die projek betrokke te raak. 

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article