Die Stad Kaapstad het verlede week bevestig dat hy besig is om gebarste waterpype in Bothasig te herstel.
Die gemeenskap is onlangs sonder water gelaat nadat verskeie waterpype in dié gebied gebars het. Mario Borchards van die Bothasig-inwonersvereniging het ook gekla oor die toestand van die gebied nadat die herstelwerk voltooi is. (“Dele van Bothasig sonder water”, TygerBurger, 4/12).
Waterpype in onder meer Vryburger- en De Grendel-rylaan en Coornhoopstraat het gebars en is herstel. Borchards het gesê die gebied ervaar etlike jare al voorvalle van gebarste waterpype, wat tot ’n groot waterverlies lei. Hy het ook verder aangevoer dat die water-infrastruktuur in hul gebied verouderd is en dringend opgeknap moet word.
Zahid Badroodien, burgemeersterskomiteelid vir water en sanitasie, het verlede week bevestig dat die waterpype in Bothasig herstel word.
Vervanging van pype
As ’n groeiende stad prioritiseer ons proaktiewe instandhouding, rehabilitasie en vervanging van ons water- en riool-infrastruktuur om ’n deurlopende en betroubare watervoorsiening vir ons inwoners te verseker, sê Badroodien.
“Gebiede word geprioritiseer vir waterpyp-vervanging, gebaseer op ’n bedryfsaanvaarde formule wat die aantal pypbarste per lengte pyplyn, en die frekwensie daarvan en ouderdom insluit. Dit moet ook in ag geneem word dat daar ’n aantal van hierdie gebiede reg oor die stad is en dat hulle volgens die begrotingsvoorsiening op die lys is.”
Hy sê as ’n voorsorgmaatreël het die Stad vir ’n aantal jare reeds sy watervoorsieningsnetwerk in druk-bestuursones opverdeel, wat deur druk-verminderende kleppe gereguleer word.
“Dit help om die lewensduur van die pype te verleng deur die waterdruk wat op die binnewande van die pype uitgeoefen word, te reguleer en sodoende die voorkoms van pypbarste te verminder.”
Oorsaak van die waterpype wat bars
Badroodien sê die bars van waterpype in Bothasig word toegeskryf aan verouderende infrastruktuur. “Sommige pype is ouer as 60 jaar. Inwoners word verseker dat die Stad se water-instandhoudingspanne uitgestuur word sodra hulle ingelig is van ‘n gerapporteerde water-toevoeronderbreking – om die saak te ondersoek en dit binne die kortste tyd moontlik op te los.”
Nog ’n hoofpyn vir die gemeenskap, het Borchards vroeër genoem, is die gehalte van die herstelwerk.
Hy sê slote word agtergelaat en dat dit ’n gevaar vir voetgangers en motoriste inhou.
“Ons neem kennis van die kommer oor die vakmanskap wat verband hou met die herinstelling van die slote en sal dit onder die aandag van die betrokke depot bring vir assessering en verbetering waar nodig,” sê Badroodien.