Stad maak skoon: Wintergereedheidsprogram van stapel gestuur om oorstromings te probeer verhoed

Geordin Hill-Lewis (regs), Stad Kaapstad se burgemeester, en Zahid Badroodien, die burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie, is by die bekendstelling van die Stad se wintergereedheidsveldtog.


Hele gemeenskappe in Kaapstad sal moet saamstaan om oorstromings in hul woongebiede te voorkom.

Dít was die beroep wat Geordin Hill-Lewis, die burgemeester van Kaapstad, verlede week gedoen het toe hy Delft besoek het. Hill-Lewis was in Delft om te kyk hoe stadsamptenare stormwaterpype skoonmaak. Hierdie pype word skoongemaak om te verhoed dat veral informele nedersettings in die winter oorstroom word.

Volgens Hill-Lewis is die gemeenskap in baie gevalle verantwoordelik vir die oorstromings omdat hulle rommel in die stormwater-stelsel gooi.

“Dit is elkeen se verantwoordelikheid om seker te maak dat die stormwaterpype skoon is, want dit kan lei tot groot skade en ook lewensverlies,” sê Hill-Lewis.

Die stadsamptenare het onder meer ’n hoëdrukspuit gebruik om die stormwaterpype skoon te maak as deel van die Stad se wintergereedheidsprogram. Volgens Hill-Lewis het die Stad vanjaar die lengte van stormwaterpype wat skoongemaak is, verdubbel tot 200 km-pyplyding.

Luidens ’n verklaring deur die Stad is R1,3 miljard begroot om reaksietyd vir die oorloop van dreine te verbeter.

“Een van die belangrikste prioriteite is ’n blitsreaksiespan en digitale vroeë-waarskuwingstelsels. Hierdie strategie het reeds tot ’n verlaging van 30% in oorstromings gelei,” lui die verklaring.

Ander planne wat die Stad smee om oorstromings te voorkom, sluit in besoeke aan die 38 hoërisikogebiede en skole om pamflette en ander inligting uit te deel, asook om meer beddens vir haweloses beskikbaar te stel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article