Toe Elsebe Peterson van Delft onlangs die “Inspirasie van die Jaar”-toekenning by die Stad Kaapstad se buurtwag-toekenningsgeleentheid ontvang het, het sy besef dat harde werk ook raakgesien word.
Peterson, lid van die Extreme-buurtwag in Delft, is nóú betrokke om te verseker dat nooddienste veilig in die gebied kom, kinders veilig by die skool kom, brandslagoffers hulp ontvang en hulpbehoewendes gevoed word.
“Die toekenning beteken vir my baie as ’n individu, want al die jare se harde werk werp vrugte af. Dit is ’n eer om te weet dat ek ’n inspirasie vir ander is – nie net vir buurtwaglede nie, maar ook vir die breër gemeenskap. Groot dinge kan uit Delft kom, as jy net hard daarvoor werk,” sê Peterson.
Peterson sê sy gaan nie nou op haar louere rus vandat sy die toekenning ontvang het nie.
“As buurtwag weet ons nou die gemeenskap sien wat ons insit en dus spoor dit ons aan om nog harder te werk. Ons moet nou vorentoe kyk en planne in plek sit vir die volgende vyf jaar om nog lede, veral jonges, te lok,” sê sy.
Die groot uitdaging vir die buurtwag is volgens Peterson die werwing van lede. “Nie almal is bereid om op ’n vrywillige basis iets vir die gemeenskap te doen nie. Daar is wel positiewe verwikkelinge, want soos die Stad en ondernemings begin betrokke raak het, het ons organisasie gegroei. Die mense wat verandering ons gemeenskap wil sien kan gerus by ons aansluit, want misdaad is veral hoog onder ons jongmense.
“Delft is ’n baie groot area en ons het baie meer mense nodig. Veral mans moet hul hande opsteek, want op die oomblik kan die buurtwag nie oral wees nie. Samewerking tussen die polisie, metropolisie en die buurtwag is van uiterse belang.”