Inwoners het tot Vrydag 2 Mei om kommentaar te lewer op die Stad Kaapstad se konsepbegroting vir die 2025-’26-boekjaar.
Die totale begroting beloop net meer as R82 miljard, waarvan R71,337 miljard vir operasionele kostes is en R12,741 miljard kapitaleprojekte geoormerk is.
Die konsepbegroting sluit ook ‘n maatskaplike pakket van R5,2 miljard in.
In sy begrotingstoespraak op 27 Maart het die burgemeester, Geordin Hill-Lewis, gesê die Stad se beplande besteding aan infrastruktuur van R39,7 miljard oor drie jaar is meer as drie Gauteng-metro’s se infrastruktuurbegrotings gesamentlik.
Dit gaan blykbaar meer as 130 000 konstruksie-verwante werksgeleenthede skep.
Van die infrastruktuurbeleggings oor drie jaar sluit in: meer as R16,5 miljard vir water en sanitasie, R5 miljard vir opknapping van die elektrisiteitsnetwerk, R3,4 miljard vir paaie, en ‘n verdere R4,5 miljard vir die nuwe MyCiti-busroete wat Khayelitsha en Mitchells Plain met Wynberg en Claremont sal verbind.
Krag
Hill-Lewis het die konsepbegroting as ‘n “belegging in hoop” beskryf.
Grootskaalse aanpassings aan tariefstrukture is volgens die Stad daarop gemik om verligting aan laer-inkomste huishoudings te bring.
Die vaste basiese heffings vir water en sanitasie sal voortaan deur die eiendomswaardasie bepaal word en nie die deursnee van aansluitings nie.
Eskom se nasionale verhoging van 11,32% kan volgens die Stad Kaapstad plaaslik tot gemiddeld 2% beperk word danksy die hersiening van die tariefstruktuur.
Oor die afgelope 30 jaar het die Stad ongeveer 10% van die koste van elke eenheid krag vir ander dienste soos skoonmaak-operasies aangewend, maar die praktyk word nou gestaak aangesien Eskom-elektrisiteit nou 400% meer kos as in 2004.
Diegene wie se eiendom minder as R500 000 werd is kom steeds in aanmerking vir die Stad se “Lifeline”- hulptarief of die “huishoudelike tarief” vir koopkrag.
Die gemiddelde kragverbruik oor 12 maande moet minder as 450kW wees vir die “Lifeline”-tarief wat geen vaste basiese heffing het nie.
Indien verbruik meer as 600kW is skuif die verbruiker na die huishoudelike-tarrief wat ‘n vaste heffing van R59,90 (BTW uitgesluit) sal hê en ‘n verhoging van 5% vir elektrisiteit gaan sien vanaf 1 Julie.
Vir “tuisgebruikers” met eiendom van meer as R1 miljoen sal die vaste elektrisiteitsheffing R339,89 (BTW uitgesluit) wees.
Sekuriteit
Meer as 700 nuwe munisipale polisiebeamptes wat in al die wyke van die Stad ontplooi gaan word, maak deel uit van die Stad se grootste belegging (R6,7 miljard) in sekuriteit vir ‘n enkele boekjaar tot dusver.
“Hierdie 700 nuwe beamptes is bo en behalwe die 400 nuwe beamptes wat ons by wetstoepassing en die metropolisie se geledere gevoeg het sedert die begin van die huidige termyn. Ons gaan beamptes op ‘n permanente basis in buurte ontplooi waar hulle die gemeenskap goed sal leer ken. Hulle sal die buurt se uitdagings, probleemgeboue en die inwoners self leer ken. Hierdie soort persoonlike polisiëring, waar verhoudings en vertroue gebou word, kan net tot beter uitkomste lei,” het Hill-Lewis gesê.
Eiendomsbelasting styg met 7,96% en vullisverwydering met 7,36%. Inwoners sal van Julie ‘n stadswye skoonmaak-tarief op hul munisipale rekening sien. “Dit is nie ‘n nuwe uitgawe nie aangesien kliënte dit voorheen reeds help finansier het deur eiendomsheffings en dit word uitgebalanseer deur die vermindering van elektrisiteitskostes wat vir ander dienslewering aangewend is,” het Hill-Lewis gesê.
Lewer kommentaar
Johan van der Merwe, voorsitter van Subraad 14, moedig inwoners aan om die openbare vergaderings oor die konsepbegroting asook die Stad se geïntegreerde ontwikkelingsplan wat vandeesmaand in elke wyk gehou word, by te woon om insette en kommentaar te lewer.
Die skedule is:
Wyk 11: Woensdag 9 April om 18:00, Van Riebeeck-saal, Carinusstraat, Kuilsrivier;
Wyk 14: Donderdag 10 April om 18:30, Blackheath-gemeenskapsaal, Evergreen-rylaan, Austinville; en
Wyk 19: Woensdag 23 April om 18:30, Wesbank se veeldoelige saal (MPC), Silversandsweg.
.Besoek www.capetown.gov.za om kommentaar te lewer op die Stad se konsepbegroting of om jou munisipale kostes te bereken.