Sport bou karakter.

Só verduidelik die hoof van die Laerskool Silversands die skool se planne om die sportveld op te knap.

“Ons wil hê die leerders moet op meer as net akademie fokus, en daarom wil ons die hulp van die gemeenskap vra om ons by te staan om hierdie projek ’n sukses te maak,” sê Marshall Cupido, die skoolhoof. “ ’n Skool behoort aan die gemeenskap en dit is belangrik dat die gemeenskap eienaarskap neem en ons help om die kinders te help.”

Volgens Cupido wil hulle die hele veld gelyk maak, asook nuwe besproeiingstelsels en gras aanbring.

“Ons wil vir die kinders ’n waardige multifunksionele sportveld bou waarop hulle trots kan wees. Hulle moet opgewonde wees om daar te wil speel. Dit sal dit vir ons moontlik maak om ander skole se sportspanne by die skool te verwelkom,” sê Cupido.

Hy doen ’n beroep op enigeen in die gemeenskap van Silversands of enigiemand wat die skool se belange op die hart dra, om hom te kontak.

“Al het jy ook net die kundigheid om ons raad te gee oor hoe om hierdie projek suksesvol te maak, sal dit waardeer word. Enige ander bydraes sal ook hoog op prys gestel word,” sê hy.

  • Bel Cupido by 084 550 3893 Vir nog inligting oor die projek of om die skool by te staan met die opknapping van die sportgeriewe of enige ander hulp.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article