Die Spierdistrofie-stigting van Suid-Afrika het op Woensdag 13 November 22 kinders met verskeie spierdistrofieë met ’n uitstappie na GrandWest bederf.
“Daar was twee leerders van die Eros School for Children with Cerebral Palsy , nege leerders van die Tembaletu Special School, en 11 leerders van die Astra Special Needs School.
Die kinders het die dag begin met speletjies by The Magic Company, wat deur die Spierdistrofie-stigting as geskenk aangebied is. Elke kind het ook ’n geskenksakkie ontvang om huis toe te neem.
“Ons borge, Toys R Us, het ouderdomsgeskikte geskenke aan die kinders gegee, terwyl Reach for a Dream hulle met ’n ete en ’n koeldrank by die Spur bederf het. Ons wil graag Reach for a Dream en Toys R Us bedank vir hul vrygewigheid en dat hulle hierdie geleentheid so spesiaal en onvergeetlik vir die kinders gemaak het,” sê Vanessa Jordaan, bestuurder van die Spierdistrofie-stigting.
LEES: ‘Ek het gedink ek is net onfiks’: Die verhaal van persone met spierdistrofie
‘Potensiaal is groter as gestremheid’
“Kinders met ’n gestremdheid beskou ek as normaal. Ek behandel elke kind met geduld, passie en liefde, ongeag hul gestremdheid. Vir my maak dit nie saak wat die kind se beperkinge is nie – almal word op dieselfde manier behandel. My motto is eenvoudig: ‘One count, one sound’,” sê Thomas Solomon Fortuin, sportafrigter van die Astra Special Needs School.

Fortuin verduidelik as sportafrigter werk hy met kinders wat unieke uitdagings het, en dit vul hom met opwinding en dankbaarheid.
“Dit is ongelooflik om te sien hoe die menslike liggaam sy gestremdheid akkommodeer – alles deur God se genade.
“Die hoogtepunt van my rol is die kinders self. Sport leer ons belangrike lewenswaardes soos spanwerk, geduld, respek, en om saam te bid. By die Astra-skool bid ons voor, tydens en ná elke oefensessie of wedstryd. Gebed is die fondament vir enige sukses, maak nie saak wat die omstandighede is nie,” sê Fortuin.
Dankbaarheid
“Hierdie jaareindgeleentheid was my eerste uitstappie saam met die kinders, en dit was, soos hulle in Engels sê, mind-blowing.
“Baie kinders wêreldwyd kry nie die geleentheid om op sulke uitstappies te gaan nie. Hierdie spesiale dag het die kinders nie net pret verskaf nie, maar ook ’n gevoel van liefde en sorg deur mense wat omgee.
“Om te sien hoe elke kind ’n geskenk ontvang en saam ’n ete by Spur geniet, was ’n herinnering aan die belangrikheid van dankbaarheid. Hierdie uitstappie het gewys dat ons met klein gebare groot verskille in kinders se lewe kan maak,” sê Fortuin.
