Vir die meeste ouers van gestremde kinders is dit een van die grootste vrese – waar gaan my kind na ’n toepaslike skool kan gaan? Sal hy plek kry?
’n Nuwe skool in Bellville hoop om vir ouers van twee- tot vyfjariges ’n antwoord en toevlug te twees. Die skool, Nutshell, word deur Elana Visser bedryf en is by Van der Stelstraat 73 by die Downsindroom Vereniging Wes-Kaap se kantore.
“Ons fokus net op leerders met spesiale behoeftes, soos outistiese kleuters, (kinders met downsindroom) of enige leerder wat daai ekstra bietjie aandag en liefde kort om te kan vorder,” sê Visser.
Die skool het in Januarie sy deure oopgemaak en hoop om alle terapie op een perseel te bied. Hy beplan tans om net 20 leerders te aanvaar en het vier opgeleide volwassenes wat na die kinders kyk.
Vir Visser het alles begin toe sy self in hoofstroomskole skoolgehou het.
“(Ek) het jaar ná jaar gesien hoe groei die behoefte van leerders met spesiale behoeftes. Deesdae moet hulle net in die hoofstroomklasse ‘cope’, sê sy.
“Dis bietjie onmoontlik om hulle te ondersteun as jy 30 hoofstroom- kinders het en sewe is outisties. Jy verloor daai kinders en van hulle het so baie potensiaal as hulle vroeg genoeg met intervensie begin,” sê sy.
Sy het drie jaar terug begin navorsing doen en besef hoewel daar baie skole is vir kinders met spesiale behoeftes, is baie net gemik op mense met hoër inkomste.
“Daar is so baie mense wat nie daai bedrag kan bekostig nie en waarheen moet hulle met hul kinders gaan? My hart kon nie meer verduur hoe die kinders net wegraak nie.”
By Nutshell doen hulle ’n gedeelte van die nasionale kurrikulum (Caps), maar pas dit aan na gelang van die kind se ontwikkelingsvlak.
Hulle bied ook terapie, deur Little Lamb Therapy aan, maar Visser glo sterk daaraan dat alles, selfs terapie, vir ouers bekostigbaar moet wees.
“Ek begin ook vir die ouers ’n ondersteuningsgroep, wat een keer per maand by Nutshell bymekaar gaan kom net om bietjie normaliteit te kan ervaar. Ek sien ook baie daarna uit.”
Visser bied ook gratis hondeterapie aan nadat sy navorsing gesien het dat veral outistiese kinders daarby baat vind.
“Ek wil dit (hondeterapie) uittoets. Wat het ek om te verloor? Ek het ’n swart labrador, wat opgelei is. Ek kan nie vir die ouers beskryf watter kalmte ervaar die leerders as sy daar is nie.”
Die skool het boonop ’n sensoriese kamer.
Daar is amper geen einde aan Visser se entoesiasme vir die toekoms en alles wat moontlik is nie.
“Spesiale kinders kort ook ’n kans in die lewe.”