Met soveel meer mense by wie outisme of ’n ander neurodiverse toestand vandag gediagnoseer word, is dit nodig om meer van neurodiversiteit te leer, sê Noëline de Goede, uitvoerende direkteur van die Neurodiversity Foundation (NDF), ’n nie-winsgewende organisasie in Durbanville.
“Hoe meer ons daaroor leer, hoe meer positief kan ons neurodiverse mense insluit in die alledaagse lewe,” sê sy.
Flip Vorster (47) van Durbanville, die hoof- uitvoerende beampte van True North Experiences by die Taaibosch-kampterrein buite Durbanville, het op Dinsdag 14 Junie na Frankryk vertrek om saam met drie oorsese spanmaats sowat 600 km per fiets af te lê om geld vir die stigting in te samel.
Hulle het Sondag in Parys klaargemaak en hoop om met hul “Biking for Bucks”-veldtog meer as R60 000 vir minderbevoorregte neurodiverse kinders in te samel.
Volgens De Goede kos dit ’n ouer tussen R6 000 en R8 000 vir ’n diagnose by ’n private sielkundige wat spesialiseer in neurodiverse toestande.
“Hoe vroeër ’n kind gediagnoseer kan word, hoe beter is die kind se kanse om sy of haar volle potensiaal te kan bereik, omdat ’n mens die nodige ondersteuning en aanpassings kan maak wat die kind benodig om positief te ontwikkel,” sê sy.
Die stigting lewer dienste in die Wes-Kaap aan neurodiverse kinders en gesinne in onderontwikkelde gemeenskappe waar minimale of geen spesialisdienste beskikbaar is nie.
“Ons dienste sluit in die korrekte diagnose van kinders, die opleiding van almal in die gemeenskap –veral die onderwysers, ouers en gesondheidspersoneel in klinieke – oor neurodiversiteit, die ondersteuning van die kind in sy of haar omgewing deur middel van terapie, groepwerk en die ondersteuning van die gesin.
“Ons het ook ’n navorsingsprojek waarmee ons poog om ’n bekostigbare diagnostiese toets te ontwikkel wat in arm gemeenskappe gebruik kan word om kinders effektief op ’n vroeë ouderdom te kan diagnoseer,” sê De Goede.
Vorster en twee van sy oorsese spanmaats, Chris Frye van Duitsland en Kyle Redshaw van Frankryk, het begin met ’n opwarmrit van Parys na Versailles.
Daarna het hulle per trein na Strasbourg gereis, waar Bill Hansen van Switserland by hulle aangesluit het.
Daarvandaan het hulle tussen 70 km en 90 km per dag in ’n suid-oostelike rigting al langs kanale en riviere na Burgundy gery.
Onder hul vele wedervaringe was om ’n nuwe pedaal iewers op die platteland, myle ver van die naaste fietswinkel, by ’n fietsversamelaar – hy het altesame 5 600 fietse – te koop toe Flip se pedaal gebreek het.
Volgens De Goede is die NDF in Maart 2018 gestig deur Ben Truter, ’n kliniese sielkundige, en Petra Truter, ’n beradingsielkundige, nadat hulle saam met ander rolspelers die Neurodiversity Centre (NDC) in Januarie 2017 gestig het.
“Hulle het besef dat die behoefte aan gehalte-, gespesialiseerde, multidissiplinêre dienste in agtergeblewe gemeenskappe selfs nog groter is, omdat hierdie gemeenskappe meestal geen of baie beperkte hulpbronne en dienste het om ondersteuning te bied aan neurodiverse kinders en gesinne,” sê sy.
“Neurodiversiteit verwys na ’n verskil of andersheid in breinfunksionering, wat veroorsaak dat die persoon die wêreld anders beleef en ook op ’n ander manier optree, kommunikeer of omgaan in die wêreld.
“Dit beïnvloed jou sosiale vaardighede, kommunikasie, aandagspan, gemoed, sensoriese integrasie, emosies. gedrag, asook uitvoerende funksionering – dus beplanning, organisering, selfbeheersing, geheue, tydsbeplanning, selfbestuur, selfmonitering en aanpasbare denke,” sê De Goede.
“Dit is belangrik om te verstaan dat neurodiversiteit nie slegs verwys na outisme nie, maar dat daar baie verskillende neurodiverse toestande is en ’n persoon in die meeste gevalle meer as een toestand het wat oorvleuel. Dit is ook baie belangrik om te besef dat neurodiverse mense baie positiewe eienskappe, kwaliteite en vaardighede het,” sê sy.
Kontak Noëline de Goede by noeline@neurodiversity.org.za of 066 286 4576 met navrae oor die stigting.
- Mense kan nog geld skenk op die GivenGain-platform by www.givengain.com/ap/flip-vorster-raising-funds-for-neurodiversity-foundation.


