Met ’n nagemaakte vuurwapen het ’n man ’n deel van Bellville verlede week in rep en roer gehad.
Dié man wou blykbaar winkel-eienaars naby die treinstasie beroof, maar moes gou die hasepad kies toe hulle hom agternasit!
Volgens ooggetuies wou die misdadiger probeer wegkom deur Tielman Marais-park.
Een ooggetuie het aan TygerBurger gesê so baie mense het die man agternagesit, hulle het gevrees dit gaan afspeel soos ’n boendoehof.
Die persoon vertel die groep mense het die vermeende rower ingehaal en goed pakgegee.
Nog ’n ooggetuie sê met die wegkomkans het die rower in ’n klomp woonstelle by Bosbel vasgehardloop. “Hy het oor die heining gespring en het sy wapen iewers gaan wegsteek.”
Een van die bure het die polisie gebel, wat dadelik gereageer het, hoor TygerBurger.
Die persoon vertel verder die man is deur beamptes in normale drag in hegtenis geneem, waarna sy “wapen” gesoek en gevind is.
Ao. Henrietta van Niekerk, ’n polisiewoordvoerder, sê daar is ’n saak van besit van ’n vuurwapen geopen.
Sy sê die verdagte is ’n 20-jarige man. “Daar was geen gesteelde items op hom gekry nie en dit is onseker of hy in ’n roof betrokke was, aangesien daar geen roofsaak teen hom oopgemaak is vir daai dag nie.”
Die verdagte, sê sy, het by die park ingehardloop en is deur die publiek opgemerk, waarna die polisie ontbied is. “In sy besit het beamptes ’n nagemaakte vuurwapen gekry en hom daarvoor gearresteer.”
Sy sê daar was geen boendoehof-verrigtinge nie.
Die verdagte het op 17 November in die hof verskyn. Die ondersoek duur voort.