SA Water Warriors se konvooi in Brandvlei.


South African Water Warriors het op Saterdag 27 April ’n baie suksesvolle uitreik na Brandvlei in die Noord-Kaap gehou.

Altesame 150 gesinne, boere en hul werkers het pakkies met kruideniersware en voer ontvang. Met hul aankoms is hulle ingewag deur boere wat erg deur die droogte geknou is en dankbaar is vir enige hulp.

Baie vinnig is ingespring deur ieder en elk om die 13 voertuie met voorraad uit die Kaap uit af te laai. Verrigtinge is begin met ’n toespraak of twee en daarna het een van die plaaslike inwoners ’n gebed gedoen. Toe het die groot taak begin om 150 pakkies op te maak. Almal het ingespring en gou-gou is dit voltooi en kon die mense hul pakkies neem.

‘Dankbaarheid’

“Die dankbaarheid op die gesigte vir wat ons elke dag as vanselfsprekend aanvaar, was duidelik te bespeur. Die aand is afgesluit met ’n lekker kuier en nog bedankings. Sondagoggend is die Warriors daar weg terug Kaap toe en het baie dankbare mense agtergelaat,” meen Deon Smit, die stigter van SA Water Warriors.

Smit verduidelik dat die SA Water Warriors die afgelope ses jaar elke twee maande ’n uitreik onderneem na ’n boeregemeenskap in nood. Tussenin is ook water aangery vir inwoners waar groot brande geheers het – onder meer die brande destyds in Wupperthal en Bettysbaai.

Die organisasie wil graag hou by sy roetine om elke twee maande ’n uitreik aan te pak.

Geld is op

“Daar is reeds drie gemeenskappe wat om hulp gevra het. Dit het ongelukkig nou ná ses jaar by die punt gekom dat die Water Warriors se geld op is en hulle dringend nog benodig,” verduidelik Smit.

Hy sê in dié stadium kom 80% van hul geld van die publiek. Hulle wil graag besighede uitdaag om hande te neem en te help dat hulle hierdie taak wat aan hulle opgelê is, kan voortsit.

Smit verduidelik ook dat besighede wat betrokke raak en donasies maak voorsien word van ’n artikel 18A-sertifikaat vir belastingdoeleindes. Die koste van so ’n uitreik wissel tussen R250 000 en R300 000. Die publiek kan nie meer alleen volhou nie.

  • Bel Deon Smit by 082 738 2702.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article