Hier by die oorhandiging is (van links) Desmond Jonkers, Raymodene Meyer en Robin Foxley.


’n Plaaslike borg het aan boord gekom om die sosiale krieketklub-unie in Scottsdene by te staan met toerusting in ’n plaaslike krieketprogram.

Dié borg, Foxxy-swemskool in Eikendal, het verlede Maandag ’n noodhulpkissie, krieketballe en T-hemde aan die unie oorhandig.

Desmond Jonkers, sekretaris van die unie, verduidelik dat daar altesaam 10 sosiale krieketklubs in Scottsdene is – ’n gebied waar bendegeweld hoogty vier.

“Ons het die klubs begin om jong manne wat voorheen by bendes betrokke was, te wys dat daar baie beter dinge is om te doen.

“Ons speel elke Sondag in Scottsdene en Zoopark en dis wonderlik om te sien hoe betrokke die jongmense by die spelers is,” sê Jonkers, ’n onderwyser by die Laerskool Joostenberg.

“By ’n onlangse wedstryd het ’n speler sy hand op ’n glasstuk in die gras gesny toe hy ’n bal gevang het. Twee ander spelers is beseer toe hulle teen mekaar vas gespring het.

“Dis toe dat ons besef het hoe belangrik dit is om ’n noodhulpkissie op die veld te hê,” sê hy.

“Ons sukkel maar altyd met balle en hoewel elke klub verantwoordelik is vir sy eie toerusting, het hulle uitgehelp met balle en T-hemde,” sê hy.

Die unie is dankbaar vir alles wat die swemskool in die gemeenskap terugploeg.

“Ons is tans ook op soek na ’n borg om te help om ons skeidsregters en wedstrydbeamptes met hempies en pette toe te rus,” sê hy.

Jonkers sê die krieketwedstryde kweek ’n liefde vir sport, wat bewys is daarvan dat, ten spyte van al die moord en doodslag in Scottsdene, daar ook baie goeie dinge gebeur.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article