Kraaifontein se “sopkombuis-tannies” het ’n lekker ontbyt en gratis fotosessie geniet. Van links is Mamorema Maketela, Nicholene Botha, Aisha Johnson, Lecille Pool, Natasha Wence, Janeen Portela, Benita Thomas en Diane Manas. FOTO: Siobhan Photography.

Credit: SYSTEM

Almal ken Kraaifontein se sopkombuis-tannies.

Met ’n voorskoot om die lyf en agter groot potte bedien hulle daagliks sowat 1 500 mense, kinders en volwassenes, wat tou staan vir warm sop.

Dié heilsame warm sop voed nie net die liggaam nie, maar ook die siel vir baie armes in bendegeteisterde gebiede vir wie hoop lankal vergete is.

Verlede Dinsdag kon agt van dié vroue vir ’n dag hul voorskote wegpak en hulself optof vir ’n lekker ontbyt en ’n fotosessie by Bugz Playpark in Joostenbergvlakte om Vrouemaand mee af te sluit.

“Die photoshoot en ontbyt was ’n geskenk van ’n plaaslike fotograaf om vir ons dankie te sê, en ons ook spesiaal te laat voel vir ’n dag.

“Ons het onsself die oggend mooi gemaak. Maar terwyl ons daar gesit het, het ons gedink, ai jinne, waar gaan onse mense vandag kos kry? Ons het teruggekom by die huis en teen 12:00 is die potte weer aan die gang gesit, want ons mense was honger en die potte moet geroer word,” sê Lecille Pool, stigter van die nie-winsgewende organisasie Shirley’s Giving Hands.

Sowat 14 sopkombuise werk onder dié sambreel van die organisasie in verskeie gebiede van Kraaifontein. Die organisasie is tydens die Covid-19-pandemie gestig en gaan nog volstoom voort.

“Die groot nood het in Covid begin, maar dit word elke jaar net groter. Daar is elke maand nog meer mense wat nie werk nie en daar staan hele families in rye vir kos,” sê Pool.

“Daar is minder instansies wat skenk, maar die honger mense raak meer. Ons hou tans die potte aan die gang met bestanddele wat ons van die Carmen Stevens-stigting in Stellenbosch ontvang en tussen ons probeer ons om die sopkombuise van Maandag tot Saterdag oop te hou,” sê sy. “Ons bly gemotiveerd omdat ons self in die communities bly en kan sien hoe die kinders suffer. Mense klop elke dag aan vir kos en solank ons die mense kan kos gee, weet ons hulle gaan nie steel of bedel nie. Ons kyk na mekaar. Dit gaan oor waardigheid,” sê sy.

You need to be Logged In to leave a comment.