DURBANVILLE: `n Man wat homself vroeër dié week by die Sonstraaldam in Durbanville aan jong meisies ontbloot het, is vandag (Donderdag 9 Oktober) aangekeer.
Gewapende reaksielede van CDF-sekuriteit het hom by die dam opgemerk terwyl hulle op pad was na ’n alarmoproep.
“Ons het hom aan sy kleredrag en aan die beskrywing wat inwoners op plaaslike buurtwaggroepe gedeel het, uitgeken,” sê ’n woordvoerder van CDF-sekuriteit. “Hy is later deur een van die meisies aan wie hy hom ontbloot het, uitgeken.”
Volgens CDF is twee voorvalle aangemeld — een op Saterdag en een op Dinsdag — waar die verdagte voor tienermeisies gemasturbeer het.
Die reaksielede het die man na die Durbanville polisiekantoor geneem waar hy aangekla is.
Sers.Wesley Twigg, `n polisiewoordvoerder, het bevestig `n 29-jarige man is in hegtenis geneem vir openbare onsedelikheid.
“Die omstandighede rondom die voorval word tans ondersoek. Die verdagte sal op Maandag 13 Oktober in die Bellville-landdroshof verskyn,” het Twigg gesê.


