Enkele minute voor huisrowers vort is met ’n Sonkring-gesin
se nutsvoertuig en ander gesteelde goedere, het hulle die ma beveel om haar
baba uit die kar te haal.
Die huisroof het gisteraand om 19:45 in Vredeveldstraat
plaasgevind.
“Die man het met sy tuiskoms sy voertuig in die motorhuis
parkeer en die motorhuisdeur agter hom toegemaak. Die huisrower het egter die
deur gegryp voordat dit heeltemal toegemaak het en dit oopforseer,” sê kapt.
Erica Crous, polisiewoordvoerder.
“Toe hy omkyk om te sien waarom die deur weer oopgaan, het
een van die rowers langs hom gestaan met ’n vuurwapen op hom gerig. ’n Tweede
rower, ook gewapen, het aan die ander kant van die voertuig gestaan,” sê Crous.
“Die man is toe beveel om in die huis in te gaan terwyl die
ma beveel is om die baba uit die motor te haal, met die een rower wat agter
haar gestaan het.
Ma en kind is badkamer toe geneem terwyl die man op sy bed
vasgebind is.
“Die rowers het weggekom met twee skootrekenaars, twee
selfone, ’n trouring en ’n die nutsvoertuig (Discovery Land Rover). Die man het
losgekom en die polisie gekontak,” sê Crous.
Geen skote is afgevuur en niemand is beseer.