Gemeenskapslede het verlede Donderdagaand in Kalkfontein bymekaar gekom om te help soek na ‘n vermiste seun van die buurt. Dit was toe reeds ‘n week sedert die 13-jarige Luchen Brink laas deur sy familie gesien is.
Luchen, ‘n gr. 8-leerder van die Hoërskool Sarepta (Sarepta Sekondêr), word sedert Donderdag 20 Maart vermis. Volgens sy ma was hy die dag by die skool maar het hy nooit na hul huis in Brendastraat teruggekeer nie.
Luchen is as vermis by die Kuilsrivier-polisie aangegee. Die seun se hare is kort gesny en hy het met sy verdwyning sy skooluniform, ‘n wit hemp en grys langbroek aangehad. Hy het ook sy blou skoolsak by hom gehad.
Wouter de Vos, raadslid vir Wyk 11, wat Donderdagaand help soek het, het gesê met die skoolvakansie gaan daar nou orals kinders op straat wees. Hy het gevra dat mense mooi moet kyk na elke kind wat hulle sien om seker te maak of hulle nie dalk vir Luchen êrens gewaar nie.
•Enigeen met inligting oor waar Luchen hom bevind kan sy ma by 063 759 3007 of die polisie by 021 900 2800 skakel.
