Só kamp jy veilig in die winter

Die winter kan ’n baie spesiale tyd wees om die buitelug in te vaar. Kampeerterreine is stiller en rustiger, en die omgewing is dikwels mooier as in die somer. Hou egter in gedagte dat die koue seisoen niemand se speelmaat is nie en dat jy hierdie ty


Die winter kan ’n baie spesiale tyd wees om die buitelug in te vaar. Kampeerterreine is stiller en rustiger, en die omgewing is dikwels mooier as in die somer. Hou egter in gedagte dat die koue seisoen niemand se speelmaat is nie en dat jy hierdie tyd van die jaar ekstra versigtig moet wees as jy uitspan. Hier is ’n paar wenke vanaf Popular Mechanics en Clymb-tydskrif vir ’n veilige, genotvolle winterkampervaring.

Trek lae aan

Jy wil warm aangetrek wees wanneer jy onaktief is, maar terwyl jy bergklim of stap, skep jou liggaam genoeg hitte. Trek dus lae aan. Begin met termiese poliësteronderklere as jou basislaag. Trek ’n vliestop wat lekker asemhaal bo-oor aan sodat jy warm bly sonder om te veel te sweet. Laastens, het jy ’n lekker dik water- en windbestande baadjie nodig vir ekstra koue weer. Omdat jy vuur gaan maak om warm te bly en kos te kook, moet jy ook seker maak dat jou buitenste laag klere vuurbestand is. Voeg ’n serp by vir ekstra hitte.

Kyk kop tot toon na jouself

Moenie van jou kop en voete vergeet nie. Trek ’n wol- of vliesmus oor jou ore. Los maar eers jou katoensokkies by die huis en pak wol- of poliëstersokkies wat spesiaal vir stap ontwerp is. En maak seker jou stapskoene is waterdig.

Sorg ekstra mooi vir jou hande

Hou jou vingers warm deur twee lae handskoene te dra: een paar poliëster voeringhandskoene met ’n dikker paar bo-oor. Hou ook altyd ’n ekstra paar handskoene byderhand ingeval jy iewers een verloor.

Kry die vuur aan die gang

Om warm te bly moet jou eerste prioriteit wees as die son begin sak. Steek dus die vuur aan voordat jy enigiets anders doen om jou kamp op te stel.

Kies die regte kampterrein

Soek ’n kampplek waar jy lekker oggendson kan kry. Bepaal waar die eerste strale met sonsopkoms gaan val en draai jou tent in daardie rigting om ten volle voordeel daaruit te trek. Onthou net ook om jou tent teen die wind beskut te hou.

Water, water en nog water

Jy gaan dalk nie so dors soos in die somer wees nie, maar dit is net so belangrik om in die winter gehidreer te bly. Vir ekstra energie tydens jou buitelugavonture, kan jy ’n flessie warmsjokolade in jou rugsak sit.

Wees voorbereid op kondensasie

Soos wat jy saans in jou warm tent asemhaal terwyl dit koud is buite, sal kondensasie aan die binnekant van die tent vorm. In die oggend sal hierdie kondensasie op jou neerdou. Om die kondensasie te verminder, kan jy jou tent saans ventileer deur die tentflap effens oop te laat. Jy kan ook ’n kerslantern iewers veilig in jou tent hang. Laasgenoemde sal nie net kondensasie verminder nie, maar ook ekstra hitte voorsien.

Gaan slaap in jou klere

Moenie vir jouself moeite maak deur al jou lae klere uit te trek om pajamas aan te trek voordat jy gaan slaap nie. Klim nét so – vuil stapsokkies en al – in die bed en bly lekker warm.

Vat litiumbatterye saam

Litiumbatterye vaar beter as alkaliese batterye in koue temperature. Hulle is ook ligter en hou drie keer langer. Gebruik dit dus in al jou elektroniese kampgereedskap.

Stoor jou water onderstebo

Ys vorm van bo af ondertoe. Bêre dus jou waterbottel saans onderstebo sodat die ys onder in die bottel sal lê en nie die tuit toe sal vries nie.

You need to be Logged In to leave a comment.