Kom smul en kuier saam by Durbanville Deeghuys se Test Kitchen-koffiewinkel. FOTO’s: VERSKAF


Durbanvillers gaan voortaan met die heerlike reuk van varsgebakte pasteie, vlytbrode en fyngebak wakker word. Die gewilde Deeghuys se nuwe winkel in Durbanville is amptelik oop en gereed om jou met ’n wye reeks lekkernye te bederf.

Heerlik en gerieflik

Sedert die eerste Deeghuys sy deure in 2012 oopgemaak het, het hierdie groep kos-en-gebak-konsepwinkels al ’n huishoudelike naam onder Suid-Afrikaanse gesinne, onthalers en kosliefhebbers geword.

Hul wye verskeidenheid gereed-om-te-eet gebak, wat vars en bevrore beskikbaar is, kom gereeld tot die redding wanneer daar lekker kos aan onverwagse gaste bedien moet word. Druk eenvoudig iets uit die heerlike reeks vars croissants, brode, pasteie en fyngebak in die oond om in ’n kits enigiemand wat oor jou drumpel stap se mond te laat water. En jy mag maar sê jy het dit self gebak, want dit is waar!

Deeghuys is natuurlik landswyd bekend vir hul ongelooflike pasteie. ’n Onweerstaanbare verskeidenheid geure is beskikbaar, insluitend wildsvleis met rooiwyn, peperbiefstuk, geurige hoender, en spinasie met kaas. Al hierdie pasteie kom daagliks vars uit die oond met ’n smelt-in-die-mond botterskilferkorsdeeg. Bevrore pasteie is beskikbaar as jy die lekkerte vir later wil hou.

Aandete is ook nou makliker met Huyskos. Dié reeks tuisgemaakte hartskos word volgens Marinda Engelbrecht van Kokkedoor-faam se resepte voorberei en beproef. Dit was nog nooit so vinnig en gerieflik om heerlike kos op die tafel te sit nie.

Geniet geurige kerriemaalvleis saam met ’n gereed-om-te-eet vetkoek, lê weg aan ’n smaakvolle bieflasagne of probeer die klassieke macaroni-en-kaas. Dit is maar net drie van die verleidelike geregte op die uitgebreide Huyskos-spyskaart.

Koffiewinkel vol verrassings

Durbanville Deeghuys spog met ’n eerste: Test Kitchen is ’n koffiewinkel met ’n kinkel. Hier word met kos en gebak geëksperimenteer sodat daar elke dag ’n nuwe verrassing op die spyskaart verskyn. Test Kitchen is uiters geskik vir funksies soos vroue-oggende en verjaarsdae, en sommer ook net vir heerlike ontbyte en ligte middagetes. Daar is ook ’n volledig toegeruste speelhoekie vir ons klein maatjies (en toekomstige kliënte).

Kom sit aan by Durbanville Deeghuys se Test Kitchen en geniet wonderlike kaasborde met deli-vleise, varsgebakte brood, heerlike blatjang en olywe.

Jy kan ook elke dag ’n lekker bord Huyskos met groente en slaai nuttig, net soos jy aan jou eie etenstafel sou doen. Elke dag word iets anders uit die Huyskos-reeks bedien, so jou smaakkliere sal nooit verveeld raak nie. As jy egter net lus is vir ’n ligte middagete of ’n varsgebakte lekkerny soos ’n sny koek, botterbroodjie, muffin of heerlike malvapoeding, is dié unieke koffiewinkel net die plek vir jou.

Dinge raak net lekkerder

Daar wink nóg bederf op die horison. In die toekoms beoog Deeghuys om kookklasse aan te bied, wat ideaal vir spanbousessies of verjaarsdagvieringe sal wees. Hulle beplan ook om opleiding aan huishulpe te voorsien, wat alles van die voorbereiding van basiese geregte tot meer gevorderde kursusse sal insluit. Pret-aande saam met vriende om ’n glasie goeie wyn is ook op die spyskaart.

Een ding kan Durbanvillers maar weet: met die heerlike gebak, lekker koffie en goeie geselskap wat daar te vinde is, gaan Durbanville Deeghuys se Test Kitchen binnekort ’n baie gewilde kuierplek wees. Gaan besoek hulle gerus op die hoek van Kerk- en Lilliestraat, skakel hulle by 021 975 8854 of stuur gerus e-pos na testkitchen@deeghuys.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.