Smile-week is verlede week by die Tygerberg-hospitaal gehou waar kinders met gesplete lippe of verhemeltes, wie se ouers nie noodwendig ’n operasie kan bekostig nie, geopereer is.
Die week is moontlik gemaak deur die Smile-stigting en Big Shoe, ’n internasionale organisasie sonder winsbejag.
Klein en groot gehelp
Een van dié gelukkige pasiënte was die agt maande oue Maurice Nkoko van Worcester. Maurice is verlede Dinsdag geopereer en die operasie was ’n sukses, het sy ma, Sharlene Nkoko (22), gesê.
“Dis die eerste keer dat ek met so iets te doen kry. Ons het al drie afsprake in die verlede gehad, maar dit is gekanselleer. Een van die mense het ons gebel vir die week se operasies en vir ons gesê om hier te wees.
“Maurice was steeds op ’n waglys in die week. Dit beteken as een sou siek raak, sou hy eers dan geopereer word. Een van die susters het met ons gesels en ons gerusgestel dat hy wel geopereer sou word.
“Ek was nie paniekerig nie; dis iets pragtig wat hulle doen. Hulle het my verras met die werk. Ek het nie woorde nie,” was haar antwoord oor hoe sy voel oor die dokters se werk.
Emkay Engelbrecht (6) was nóg een van die gelukkiges.
Sy ma, Mariam Engelbrecht (45), ’n enkelma van Abbotsdale naby Malmesbury, het gesê oor die jare het hulle herhaaldelik komplikasies ervaar wanneer Emkay die kans gegun is om die operasie te ondergaan.
“Hy is altyd geopereer vir iets anders, maar nooit vir dit waarom ons eintlik hier was nie.”
Oor Smile-week het sy gesê sy voel baie gelukkig. Mariam was Woensdag verheug dat die operasie dié keer gaan gebeur.
“Dis ’n reusegewig van my skouers af. Emkay kan nie skool toe gaan nie; dis te gevaarlik vir hom, want die onderwyser sal nie noodwendig weet wat om te doen as iets in sy mond sou vassit nie,” het sy gesê.
Sokkerster verleen ondersteuning
Igor Wetzel, ’n verteenwoordiger van Big Shoe van Duitsland, het aan TygerBurger gesê Smile-week is deur dié organisasie en die Smile-stigting begin en dat dit sover suksesvol is. Hy het gesê hulle werk ook saam met die Tygerberg-hospitaal.
Mesut Özil, die Duitse sokkerspeler wat in 2010 aan die Wêreldbeker-sokkertoernooi in Suid-Afrika deelgeneem het, help met die finansiering van die projek.
“Hy het gesê Suid-Afrika was een van die beste Wêreldbeker-sokkertoernooie waaraan hy deelgeneem het.”
Tydens sy besoek aan die land het hy gehoor van die Smile-week en die goeie werk gesien wat die stigting en Big Shoe doen, en hy het besluit om aan boord te kom, het Wetzel gesê.
Prof. Nick Kairinos, hoof van plastiese chirurgie by die Tygerberg-hospitaal, het gesê kinders met gesplete lippe of verhemeltes word geopereer, sowel as kinders met hande wat nie behoorlik gevorm het nie en kinders wat erge brandwonde opgedoen het.
“Alle vorme van rekonstruksie word gedoen.”
Hy het gesê elke geval word op sy eie meriete behandel.
“Met die hulp van die Smile-stigting en dit wat ons span hier doen, voel ek bevoorreg,” het Kairinos gesê.
Ma was moedeloos, maar nou verheug
Shan-e Sanderson, ’n ouer van Ravensmead, se dogter, Addison (17 maande), is ook geopereer.
“Ek voel verheug en dis iets moois wat hulle doen, want hoe sy gelyk het en hoe sy nou lyk is ’n groot verskil, hulle het goeie werk gedoen.
“Sy lyk goed en ’n mens sal nie sê sy het ’n gesplete lip gehad nie,” het sy gesê. Dit was ook moeilik vir haar om Addison se toestand te aanvaar.
“Ek is dankbaar hiervoor,” het die 28-jarige ma gesê.





