Die bestaande brug oor die N7-snelweg by die Refinery-wisselaar is die afgelope naweek gesluit. Dit het toegelaat dat dié brug gesloop kon word wat deel uitmaak van die opknappingsprojek aan dié wisselaar.FOTO: Wes-Kaapse Regering

Credit: SYSTEM

Verkeer op die N7-snelweg, Plattekloof-weg en omliggende gebiede is die afgelope naweek erg ontwrig weens bouwerk by die Refinery-wisselaar in Milnerton.

’n Deel van die bestaande brug op Plattekloofweg wat oor die snelweg strek, is gesloop. Dit het daartoe gelei dat verkeer herlei moes word. Die brug was gesluit, en slegs die op- en afritte op die N7 noordwaarts, sowel as die oprit suidwaarts, was in gebruik.

Motoriste kon dié roetes neem om op die snelweg te kom om sodoende eerder via Malibongwe-rylaan of Bosmansdam-rylaan dié deel te vermy. Dit het daartoe gelei dat verkeer deur gebiede soos Richwood en Burgundy Estate Saterdag en Sondag erg opgehoop het.

Die brug nadat dit die afgelope naweek gesloop is.FOTO: Wes-Kaapse Regering

Die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke het verlede week gesê die sloping van die brug vorm deel van opknappingswerk aan die Refinery-wisselaar.

Die departement se woordvoerder het verlede week motoriste wat die roete gebruik ingelig oor die beplande sluiting van sekere dele van die brug en hulle aangemoedig om alternatiewe roetes te gebruik, aangesien vertragings verwag is weens die konstruksiewerk. Die sluiting was in plek vanaf Vrydag 9 Desember tot Maandag 12 Desember.

“Sodra die opknappingsprojek voltooi is, sal verkeer weer oor die N7 vloei. Die projek sal in Februarie 2024 voltooi word,” het die woordvoerder gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article