Hy droom al van kleintyd af om ’n robot te bou wat die wêreld ’n beter plek gaan maak.
Ben van Dijk, dux-leerder by die Proteahoogte-Akademie (PHA), is vandeesweek deur die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, aangewys as een van die top-40 matrikulante in die provinsie.
Hy en die provinsie se ander top-presteerders is Donderdagoggend met toekennings vereer by ’n glansgeleentheid by die premierswoning, Leeuwenhof.
Dié slimkop het onderskeidings in sewe vakke behaal, waarin vyf meer as 90% was. Hy het sy agste onderskeiding met 0,9% gemis.
Dan was hy boonop ook die skool se robotika-boffin.
As ons robotte dink, dink ons aan mannetjies wat rondloop, praat en bevele uitvoer, maar dit is nie noodwendig die geval in moderne robotika nie, sê Ben.
“’n Robot is ook ’n masjien wat ’n spesifieke taak uitvoer wat voorheen met die hand gedoen is, soos byvoorbeeld ’n motor wat homself bestuur,” sê hy.
En dis presies wat hy beoog om eendag te vermag.
In die laaste dekade het oorsese maatskappye miljarde in die strewe na selfbesturende voertuie gestort, maar het baie van die hoofspelers om verskeie redes afgeskaal of die idee heeltemal laat vaar.
“Ek dink dit kan gedoen word en as besigheid floreer,” sê Ben, wat lank reeds robotkarretjies by die huis bou.
Uitgeboul
Ben sê hy was uitgeboul toe hy hoor dat hy die top-40 gehaal het.
“Ek het dit glad nie verwag nie. Toe ek die oproep kry met die uitnodiging Leeuwenhof toe, het ek eers gedink, het julle die regte persoon beet? Maar, ‘ja’ het die stem aan die ander kant gesê. Ek het dadelik my ma gebel en sy het gesê ek moet bitter vinnig ’n suit gaan koop.”
Ben sê sy geheim vir sukses was balans. “Dit het my baie gehelp om nie oorweldig te word deur die akademie nie. Hokkie, sport en natuurlik my stokperdjie het die balans gehou.”
Hy sal volgende jaar megatroniese ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch studeer. Dié studierigting is ’n kombinasie van meganiese en elektriese ingenieurswese.
Skool is trots
Antheo Coetzer, skoolhoof by PHA, is supertrots op hom en opgewonde om te sien wat hy in die toekoms gaan bereik.
“Hy is ’n amazing seun en het baie hard gewerk. Hy is vriendelik en hulpvaardig en ons gaan hom baie mis.
“Sy vaardighede in robotika het my verbaas. Hy het al die dele van sy masjiene self ontwerp en gemaak op 3D-drukkers,” vertel sy.
Alan Winde het die top-matrikulante toegespreek en uitgedaag om die toekoms te verander.
“Die wêreld wink en jul taak is om nuwe tegnologie en innovasie die wêreld in te bring om uitdagings soos klimaatsverandering en energie- volhoubaarheid aan te pak.
“Baie geluk en dankie dat julle ons trots gemaak het. Vat die aflosstok en verander die wêreld.”


