Hier in Brooklyn, Rugby en Maitland is nou ’n nuwe ding aan die gebeur.
Ek het nou al genoeg gehad van die geklop aan my deur van mense wat aanspraak maak op die huur van kamers.
Iemand misbruik my adres om geld uit mense te kry wat desperaat is vir verblyf – tot soveel as R7 000 vir twee maande vooruitbetaal en teen R3 500 per maand, elektrisiteit en water ingesluit.
Ek het nou al vier persone gehad wat beweer hulle het deposito’s betaal in my rekening.
Ek het selfs sover gegaan om aan een ontstoke dame my bankrekeningstaat te wys om te bewys dat sy geen gelde aan my oorbetaal het nie.
Ek voel baie sleg vir die dame, want sy het ’n lening gemaak vir die vooruitbetaling.
Die taktiek van die boewe: Hulle neem foto’s van ’n eiendom, dan adverteer hulle op Facebook en WhatsApp.
Indien iemand dan aansoek doen, neem hulle jou na die eiendom, maar het óf die sleutels vergeet óf die bestaande huurder is uit en antwoord nie sy foon nie.
Hulle vra jou vir die deposito en laat jou ’n voorlopige kontrak teken.
My advies, moet nooit jou geld oorhandig voor jy nie ’n sleutel ontvang, die binnekant van die eiendom gesien het of die rekening van inbetaling nagegaan het nie.
Ek voel regtig jammer vir diegene wat hiermee ingeloop is.

