Slangseisoen is hier.
Slangvanger vra huiseienaars moet asseblief hul agterplase skoon hou, want dit is slangseisoen.

Slangseisoen is amptelik met ons en twee potiges word gewaarsku om op die uitkyk te wees vir geen-potiges.

Jacques Joubert, ‘n bekende slangvanger, sê dit is ‘n goeie tyd vir huiseienaars om nou hul agterplase skoon te maak, want slang se kind hou van wegkruipplek.

“Hou die tuin skoon om minder wegkruipplek vir hulle te gee. Die prooi wat hulle jag, soos muise en ander gediertes broei in en onder rommel en maak daar nes. Probeer ook waterbronne toehou, want slange is dors. Slange gaan waar hulle gevoed en hul dors geles kan word,” sê Joubert.

Wanneer ‘n slang wel in ‘n huis kom, waarsku Joubert, dat die eienaars nie self helde moet probeer wees nie.

“Moet hom nie self probeer verwyder nie. Kry eerder iemand wat weet hoe om met slange te werk. Dit is belangrik om ‘n oog op die slang die hou sodat dit makliker is vir die persoon wat die slang gaan verwyder om dit te vind. Slange sal altyd probeer wegkom van mense af en sal nie sommer iemand aanval nie. Behalwe as jy n bedreiging vir hom is. Ons is nie prooi vir hulle nie, want ons is baie groter en ‘n slang sal net prooi vat wat hy kan eet,” sê Joubert.

You need to be Logged In to leave a comment.