’n Vrou (35) het met ’n gebreekte been op die vlug geslaan ná twee mans haar herhaaldelik verkrag en aangerand het.
Sy het die dag ná haar verkragting wonderbaarlik weggekom en is toe deur verbygangers opgetel waar sy weens die pyn van haar gebreekte been ineengestort het.
Volgens lt. Wayne Theunis, polisiewoordvoerder, het die slagoffer se nagmerrie-ondervinding begin toe sy op pad na die Goodwood-treinstasie toe was.
“Twee ouens wat sy ken, het haar genooi om by hulle te gaan sit tot haar trein kom. Sy het toe saam met hulle na ’n huis in Anderson-straat gegaan. Toe dit tyd word vir haar om na die stasie te gaan, het die mans haar oorval en herhaaldelik deur die nag verkrag en aangerand,” sê Theunis.
Toe sy ineenstort, het verbygangers ’n ambulans ontbied wat haar na ’n nabygeleë hospitaal geneem het. Volgens Theunis het sy toe ’n saak by die polisie aanhangig gemaak.
“Sy het presies geweet hoe die mans lyk en het dit so aan die polisie beskryf. Die een se bynaam kon sy onthou en van die polisielede het hom geken. Die dag ná die verkragting het die polisie die eerste verdagte in hegtenis geneem en onverpoos gewerk tot hulle twee dae later nog een gevang het. Sonder die slagoffer se beskrywings sou die spoedige inhegtenisnemings nie moontlik gewees het nie,” sê Theunis.
Toe die polisie by die huis kom waar die verkragting plaasgevind het, het nog ’n gru-vonds op hulle gewag. Die lyk van ’n 22-jarige man, wie se kop met klippe vergruis is, is ook gevind. Die verdagtes wat vir die verkragting in hegtenis geneem is, onderskeidelik 33 en 40 jaar oud, word ook met dié moord verbind.
Theunis sê dit is in dié stadium nie bekend waarheen die verkragtingslagoffer op pad was nie. Die familie van die vermoorde man is in kennis gestel.
Brian Lawson, voorsitter van die Goodwood-belastingbetalersvereniging, was geskok toe TygerBurger hom om kommentaar nader. “Dit is erg wat hier onder ons neuse gebeur. Hoe kan ons as ’n gemeenskap toelaat dat hierdie dinge gebeur? Die belastingbetalersvereniging het nog nooit klagtes oor dié huis ontvang nie,” sê Lawson.
Hy het belowe om ondersoek in te stel wie die eienaar is van die huis waar die gruweldade gebeur het.
Met TygerBurger se besoek aan die eiendom kon gesien word iemand is besig met opknappingswerk. Verskeie vertrekke is reeds gestroop en daar is begin met pleisterwerk. Boumateriaal het ook oral rondgelê, maar nêrens was daar tekens van iemand wat na die eiendom omsien nie.