Die ekstra klasse Saterdae, namiddae, winter- en lenteskole
van die Hoërskool Elsiesrivier die afgelope jaar, was nie vergeefs nie. Die
matrieks van 2017 se slaagsyfer was 81,2% en die vyf top-leerders is Kelsey
Moolman, Amy Gertse, Lauren de Jongh, Nisaat Ismail en Courtney Brikkels.
“Ons skool word in ons gemeenskap gesien as ’n baken van
hoop vir ons kinders. Hoewel die slaagsyfer afgeneem het vergeleke met ander
jare, het ons en sal ons as skool en onderwysers vanjaar weer probeer om net
ons beste vir ons matriekleerders te bied,” het Andrew Rutgers, adjunkhoof van
die Hoërskool Elsiesrivier, by die bekendmaking van die matriekuitslae gesê.
Volgens hom speel die sosio-ekonomiese probleme in die
woongebied ’n groot rol in die opvoeding van die leerders. Die leerders kom
hoofsaaklik uit woongebiede soos Salberau, Avonwood, Leonsdale en Elsiesrivier,
en werkloosheid en bendegeweld is van die grootste probleme in die area.
“Die skool het sowat 1 650 leerders en almal in die area wil
’n leerder by die skool wees. Onderwysers probeer die beste vir die leerders
gee en omdat ons weet dat daar nie altyd kos op die tafel by ons leerders se
huise is nie, het ons met ’n sopkombuis, uitsluitlik
vir ons leerders, verlede jaar begin,” het
Rutgers gesê.
Die matrikulante het soggens ’n maaltyd gekry voordat skool
begin het, want dit is algemeen bekend dat ’n honger leerder nie kan konsetreer of sy beste op skool lewer nie.
“Die matrieks en onderwysers het baie opgeoffer om Saterdae,
smiddae en tydens die winter- en lenteskool hul tyd op te offer. Ek wil almal
bedank wat betrokke was, want dit is net weer eens
’n bewys dat almal net die beste vir die skool wil hê,” het Rutgers gesê.
Hy het ook genoem dat Joshum Jacobs,
wat tydens die matriekeksamen verlede jaar in 39ste Laan doodgeskiet is, al vier die vakke wat hy
geskryf het, geslaag het.
“Joshom sou sy matriek met vlieënde vaandels geslaag het en
is die dag dat hy lewenswetenskappe –
biologie, soos dit voorheen bekend was – doodgeskiet. Ons het sy uitslae van die vier
vakke aan sy bewoë ma, Anthea Morris, oorhandig,
en die oomblik was vir ons albei baie emosioneel,” het hy gesê.
Die matrieks kon nie bevestig waar hulle hul onderskeie tersiêre loopbaan
gaan voortsit nie, omdat hulle eers op hul uitslae moes wag.