Joernaliste, skrywers, digters en meningsvormers kom gesels oor hul jongste boeke en sake van landsbelang by die Suidoosterfees se Jakes Gerwel-gespreksreeks wat van 1 tot 4 Mei by die Kunstekaap-teater plaasvind.
Al die gesprekke is gratis vir die publiek. Bywoning moet vooraf deur Webtickets bevestig word. Toon die bewys van bespreking op jou selfoon om toegang te kry.
Die gespreksreeks begin op Werkersdag, 1 Mei, met Netwerk24 se Mia Spies wat van die land se voorste ondersoekende joernaliste verwelkom: Pieter-Louis Myburgh, Karyn Maughan, Jana van der Merwe en Caryn Dolley. Hulle deel gedagtes oor die dikwels gevaarlike omstandighede waarbinne hulle ongemaklike waarhede oopvlek en die publiek oor ongerymdhede inlig. Maughan se boek I Will Not Be Silenced het pas verskyn, Dolley is die skrywer van Man Alone en Myburgh het die land regop laat sit met sy Gangster State en The Republic of Gupta. Van der Merwe is Netwerk24 se ondersoekende redakteur. Franklin Sonn wie se biografie, Karooseun van Vosburg, bekendgestel word, sal met Nico Koopman gesels. Antjie Krog kom gesels oor haar nuutste boek, Die binnerym van bloed, ‘n outobiografiese roman wat handel oor haar komplekse en liefdevolle verhouding met haar ma, Dot Serfontein. Die boek, ontroerend en soms skreeusnaaks, verskyn in Afrikaans en Engels. Nog ‘n outobiografie is Jonathan Jansen se Breaking Bread. Dié bekende en dikwels omstrede opvoedkundige vertel aan Lester Kiewit van sy grootwordjare op die Kaapse Vlakte, die rol van ‘n inspirerende onderwyser in sy lewe, en hoe dit was om een van die eerstes onder sy tydgenote te wees wat universiteit toe kon gaan.Verskeidenheid In Africa on the Global Stage – who are we playing with? gesels Mandira Bagwandeen met Siphamandla Zondi oor Afrika se invloed in die geopolitiek. Hulle bespreek vrae soos: Behoort ons in Trump se goeie boekies te wees? Moet Suid-Afrika strenger optree teen Rusland en minder kant kies vir die Palestyne? Het die oorlog in die DRK enigiets met ons te doen?
Politieke sake kom verder onder die vergrootglas in gesprekke soos A Love Letter to the Many met Vishwas Satgar en Dinga Sikwebu, en Smuts and Mandela – The men who made South Africa met Roger Southall, Anthony Butler en Imraan Coovadia.
Besoek www.suidoosterfees.com vir die volledige program.

