In ’n dorre distopiese toekoms in die jaar 2044, waar die wêreld om oorlewing veg onder die moeilike omstandighede van ’n kritieke waterskaarste, word Kaapstad soos nog nooit tevore in die film uitgebeeld.
“Die film is gebaseer op ’n ou Afrikaanse legende en die mees opwindende ding is dat ons hierdie legende lewe kan gee in ’n post-apokaliptiese toekomswêreld. Die wêreld van Spelonk is een wat ons selde op skerms sien, veral in Suid-Afrika. Die pragtige Kaapstad wat ons ken en liefhet, word getransformeer as die agtergrond van die futuristiese film.”
Só gesels Desmond Denton, die skrywer en regisseur van die fliek, vanuit Amerika.
Dag Zero
Geborge Kapenaars sal flitse van só ’n post-apokaliptiese werklikheid in die film danksy Dag Zero in 2019 vaagweg herken en dit is juis dié ervaring wat Denton se verbeelding so ’n aanskoulike fondament kon bied.
“Hoewel Spelonk vóór Dag Zero gekonseptualiseer is, het die eerstehandse ervaring van Kaapstad se waterkrisis vir my ’n nóg dieper verbintenis met die film se temas gegee. Dag Zero was meer as net ’n logistieke nagmerrie – dit was ’n psigologiese en sosiale gebeurtenis wat die broosheid van die moderne lewe blootgelê het. Toe die krane opdroog, het mense nie net vir water gesukkel nie; hulle is deur ’n rou, oervrees in die gesig gestaar.”
Hierdie krisis het lae van realisme en dringendheid tot Spelonk bygedra, meen hy.
Hoewel die storie nooit direk oor Dag Zero gegaan het nie, het die ervaring Denton se toewyding verdiep om stories te vertel wat onsigbare stryd uitbeeld – die soort wat agter geslote deure afspeel, in stil oomblikke van twyfel, of in die gesig van onsigbare bedreigings.
“Spelonk is geïnspireer deur ’n diep liefde vir geskiedenis, folklore en die skepping van Suid-Afrikaanse films wat grense kan oorbrug. Al hierdie elemente is daar en tog was daar een sleutelkomponent wat dit nog altyd aangedryf het.”
Vroeë jare in Tygervallei
Denton koester sy kinderjare in Bellville-boekwinkels en onthou nog die verhale wat hom in algehele verwondering in sy verbeeldingswêreld meegevoer het.
Sy loopbaan wat hom tans oor die wêreld heen neem, het op akademiese vlak by die Laerskool Totius begin, toe die Hoërskool DF Malan, waarna hy in grafiese kunste en kunsgeskiedenis by die Tygerberg-kunssentrum gefloreer het.
“Deur my skooljare het ek soggens vroeg op my fiets geklim om kopieë van die Die Burger in Welgemoed af te lewer – vanaf die ouderdom van 13 jaar tot aan die einde van my skoolloopbaan. Ek onthou nog hoe ek al die koerante afgelewer en teen 06:00 die oggend weer tuis was.”
Fantasielandskap
“Ons het gekies om Afrika, spesifiek Suid-Afrika, in ’n apokaliptiese fantasielandskap uit te beeld omdat ons glo dit is ’n betowerende land, ryk aan geskiedenis en wonderlike stories. En deur dit te verken, betree ons ’n nuwe rigting in filmkuns.”
Die film is geprys vir dapper storievertelling, treffende kinematografie en meeslepende wêreldbou, wat bewys dat Suid-Afrikaanse wetenskapsfiksie sy plek op die internasionale verhoog verdien.
“Met internasionale verspreiding reeds verseker, maak die film reeds ’n indruk – nie net weens sy boeiende narratief nie, maar ook vir sy unieke dubbeltaal-produksie verfilm in beide Afrikaans en Engels, met twee heeltemal afsonderlike na-produksiespanne, unieke toonsetting en spesifiek geslypte redigering, wat dit ’n seldsame vermaaklike ervaring maak,” verduidelik Denton.
Post-apokaliptiese Kaapstad
In die hart van Spelonk se werklikheid is Dante (vertolk deur Eric Uys), ’n eens lojale militêre bevelvoerder wat in ’n eensame oorlewende verander het. Met die opdrag om orde te handhaaf in ’n wêreld waar water die nuwe geldeenheid is, kruis Dante se pad met die Kaapse Rebelle, ’n faksie wat veg vir die reg op die lewe se mees noodsaaklike hulpbron.
“Hierdie ontmoeting dwing Dante om die ideale wat hy eens gehandhaaf het, te bevraagteken, en dit stel ’n reeks gebeure in werking wat die lot van Kaapstad sal bepaal.
“Welkom in ‘n wêreld wat tot niet is. Die Kaapstad wat ons eens geken het, is weg, vernietig deur die gierigheid en roekeloosheid van die mens.”