Die Jan Krielskool se Tekkie Challenge is al vir meer as 20 jaar een van die grootste geldinsamelingsgeleenthede op hul jaarlikse kalender.
Die Jan Kriel-instituut is sedert 1942 verantwoordelik vir die geldinsameling en batebestuur van hierdie spesiale onderriginstansie.
Die Tekkie Challenge is een van die jaarlikse geleenthede wat onder meer onderrig aan sowat 600 leerders met leer-hindernisse moontlik maak. Die Jan Krielskool fokus op die ondersteuning van leerders van gr. R tot 12 met spesiale onderwysbehoeftes.
Die Jan Krielskool en Food Lover’s Market is gereed om professionele, sowel as pretdrawwers op Saterdag 2 September te verwelkom. Die 21 km – en 10 km-wedlope is by WP Atletiek geregistreer.
Die 10 km-wedloop spog ook met die enigste “Battle of the Sexes’’-kompetisie in Suid-Afrika. Vir die eerste keer kan 5 km-deelnemers ook om ’n gesogte ‘‘Dress up your Tekkies’’-titel meeding en ’n prys wen. Volg die Jan Kriel-instituut op sosiale media vir meer inligting.
Vooraf inskrywings sluit op Dinsdag 29 Augustus, maar inskrywings kan nog op die dag van 06:00 in die skoolsaal gedoen word. Die 21 km-atlete spring eerste weg om 07:00, die 10 km begin 07:30 en die familievriendelike 5 km begin 07:45.
Parkering is slegs vanuit Amandel-rylaan. Die hekke maak 05:30 oop.
Besoek www.tekkiechallenge.co.za of stuur ’n e-pos na events@jankriel.co.za om in te skryf.