Skoolskoene vir minderbevoorregtes

Die welbekende Kraailove Facebook-groep het vandeesweek ’n projek van stapel gestuur om minderbevoorregte kinders in Kraaifonteinse skole met skenkings van skoolskoene en skryfbehoeftes by te staan.


Die welbekende Kraailove Facebook-groep het vandeesweek ’n projek van stapel gestuur om minderbevoorregte kinders in Kraaifonteinse skole met skenkings van skoolskoene en skryfbehoeftes by te staan.

Die groep doen ’n beroep op die publiek om hulle met die insamelingsprojek te ondersteun.

Kwayo Louw van Kraailove sê hy het die groot nood opgelet tydens ’n onlangse besoek aan ’n plaaslike skool.

“’n Maand gelede sit ek by ’n skool en sien kinders met stukkende klere en skoene.

“Van die kinders kom selfs skool toe met pantoffels omdat dit maar baie swaar gaan in hul huishouding,” sê hy aan Tygerburger.

“Baie kinders kan nie bekostig om een dag uit die skool te bly nie, want die kos wat hulle by die skool ontvang, is al wat hulle het om te eet.”

Die doel van die projek, sê hy, is om te verhoed dat kinders by die skool oor hul kleredrag geboelie word.

“Want môre los daai kind die skool omdat hy elke dag voor gelag word by die skool en sluit dan by ’n bende aan of verkoop dwelms om te voel hy word iewers aanvaar.”

Daar is ook ’n groot tekort aan skryfbehoeftes.

“Baie van die kinders het nie eens die basiese goed soos penne, potlode en liniale nie.

“Ons glo dat die regte skryfbehoeftes ook die kinders sal motiveer om uit te blink op skool.”

Louw sê alle skenkings van skoolskoene en skryfbehoeftes wat ingesamel word, sal aan die onderskeie skoolhoofde oorhandig word vir kinders in nood.

Navrae kan gerig word aan Kwayo Louw by 062 823 4986 of Claudette by 073 101 1670; of op die Kraailove Faceboek-groep.

You need to be Logged In to leave a comment.