’n
Sewentienjarige hoërskoolmeisie is vanoggend beseer toe sy van haar poegie
afgestamp is in ’n tref-en-trap-ongeluk in Brackenfel-boulevard.

Die motoris
wat volgens een ooggetuie glo in ’n wit of silwer SUV gery het, het ná die
ongeluk weggejaag en die polisie is tans op soek na enige inligting wat tot die
motoris se inhegtenisneming kan lei.

Volgens die
ooggetuie sal die voertuig ’n stampmerk op sy linkeragterbuffer hê.

Die meisie
was op pad skool toe, toe die ongeluk omstreeks 06:20 op die hoek van
Muidenstraat plaasgevind het.

Volgens die
Brackenfell-polisie het sy met haar swart Vuka-poegie in die rigting van
Proteastraat gery toe ’n onbekende voertuig uit Muidenstraat, Sonkring, regs
gedraai het in Brackenfell-boulevard in die rigting van die Bottelarypad.

Volgens
polisie het die slagoffer ryvoorrang gehad toe die voertuig haar gestamp het.

“Die
voertuig het nie ná die ongeluk gestop om vas te stel of daar beserings was
nie, of om vir die polisie te wag nie,” sê kapt. Erica Crous, van
Brackenfell-polisie.

Die polisie
is na die toneel ontbied en ’n plaaslike sekerheidsmaatskappy het noodhulp toegepas
totdat die ambulans opgedaag het.

“Die meisie
se linkerbeen is ernstig beseer en sy is na die naaste hospitaal vervoer,” sê
Crous.

Die polisie
ondersoek tans ’n saak van roekelose en nalatige bestuur en die versuiming om
te stop by ’n ongelukstoneel.

“Ons kan
nie tans bevestig presies watter soort voertuig in die ongeluk betrokke was
nie, en is daarom afhanklik van ooggetuies om inligting te bekom.”

Ooggetuies
of enigiemand met inligting in verband met die ongeluk, word versoek om die
polisie te by 021 980 5729 of 021 980 5737 te skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.